Frank Hislop aan die stuur van P’burg Tafelronde 22
Die doel van Tafelronde is om jong, professionele mans bymekaar te bring om 'n verskil te maak in die samelewing.
POLOKWANE – Die doel van Tafelronde is om jong, professionele mans bymekaar te bring om ‘n verskil te maak in die samelewing.
So vertel Frank Hislop (32), voorsitter van Tafelronde Pietersburg 22.
Hislop, ‘n eienaar van ‘n vulstasie in die stad is eenparig tot voorsitter verkies.
“Dit bly vir my ‘n groot eer en voorreg om voorsitter van Tafelronde Pietersburg 22 te wees,” sê hy.
Die vorige voorsitter van dié klub was Jannie van Waveren.
Vanjaar vier Tafelronde Pietersburg 22 hul 60ste bestaans-jaar en Hislop sê hulle gaan hul jaarlikse areavergadering met gepaardgaande verjaardagvieringe aanbied. “Dit gaan ons baie besig hou, maar ek sien baie uit daarna.” Volgens Hislop wil Tafelronde Pietersburg 22 vanjaar daaraan werk om die publiek meer bewus te maak van die doel van die klub se doelstellings.
“Mense weet nie regtig waaroor dit gaan nie en ons beplan ‘n bewusmakingsveldtog. Tafelronde is daar vir liefdadigheid. Ons het ook ‘n Facebook-blad oopgemaak waar ons gereeld foto’s sal opsit,” sê hy.
Tafelronde Pietersburg 22 se lede is beslis vuur en vlam om dié jaar ‘n uitmuntende jaar van liefdadigheidswerk en gemeenskapsbetrokkenheid te maak.



