Kristal armbande vir goeie doel verkoop
Om geld in te samel vir Pathways Polokwane, het drie vroue van die stad bymekaargekom en met 'n blink plan vorendag gekom.
POLOKWANE – Om geld in te samel vir Pathways Polokwane, het drie vroue van die stad bymekaargekom en met ‘n blink plan vorendag gekom.
Mev. Polokwane, Nadia du Preez, Erika Mengouchi van Mengouchi Haute Couture, en Venita Botes, ‘n juweliersontwerper, verkoop kristal armbande en die wins sal aan Pathways Polokwane geskenk word.
Elke armbandjie kos R120.
Venita Botes (29) het die bandjies ontwerp. Sy is ‘n boorling van Tzaneen en het haar skoolloopbaan aan die Hoërskool Ben Vorster voltooi.
Na skool het sy vir ‘n juwelier in Tzaneen gewerk en is later na Pretoria waar sy juweliersontwerp aan die Tshwane Universiteit van Tegnologie studeer het.
Hierna het sy vir ‘n juwelier in Polokwane begin werk.
Twee jaar gelede het sy haar eie besigheid, Venita’s Jewellery, begin.
“Die beste deel van my werk is dat ek elke dag kreatief kan wees. Die uitdrukking op mense se gesigte wanneer hulle van ‘n ontwerp hou is wonderlik,” het sy aan Review vertel.
Die kristal armbandjies het elkeen ‘n gelukbringertjie aangeheg en klante kan kies tussen ‘n hartjie, ‘n uitjie, die Mengouchi-embleem en twee soorte voëltjies.
Vir meer inligting oor hierdie onderneming, kontak Du Preez by 076 274 0147, Mengouchi by 083 363 6526, of Botes by 071 642 5357.



