Dieselfde vreugde al is die ma ietwat ‘ouer’
Suid-Afrikaners swangerskapbewustheidsweek gevier en Review het met 'n ma gesels
Verlede week het Suid-Afrikaners swangerskapbewustheidsweek gevier en Review het met ‘n ma gesels wat op 39 jaar haar tweede kind, 10 jaar na die eerste, gehad het.
Estrelita Harmse (41) sê daar is nie ‘n handboek wat moeders leer hoe om ‘n perfekte ma te wees nie en elke ma moet dié moeilike taak een dag op ‘n slag aanpak.
Harmse was 29-jaar oud toe sy geboorte gegee het aan haar seun, Eduaniq. “Hy is op 21 Januarie 2001 gebore. Ek het daardie Donderdag-oggend ingegaan en ‘n induksie gekry, maar die mannetjie was taai, hy is eers die Sondagoggend 02:00 gebore,” het Harmse vertel.
Volgens Harmse, wou haar seun nog altyd ‘n boetie of ‘n sussie gehad het en sy het ook ‘n begeerte gehad om nog ‘n baba te hê.
Daarom het sy en haar kinders se pa besluit om nog ‘n baba te kry. Op 26 Januarie 2011, het Harmse geboorte gegee aan haar dogtertjie, Estreniq.
“Met Estreniq was ek nie so lank in kraam nie. Ek het die oggend om 06:00 ‘n induksie gekry en sy is rondom 16:00 gebore,” het sy gesê.
Volgens Harmse was daar geen komplikasies in beide swangerskappe nie.
“Die enigste verskil in my swangerskappe was die bevallings self.
“Met Eduaniq het dit maklik gegaan, alhoewel ek lank in kraam was, maar met Estreniq was dit baie moeilik.
“Teen die tyd wat ek geboorte moes gee, het ek geen krag gehad nie. Dit was seker die ouderdom wat teen my getel het, want ek was baie moeg gewees,” het Harmse vertel.
Kort na Estreniq se geboorte is Harmse se kêrel vermoor.
“Dit was die moeilikste tyd van my lewe, maar my kinders het my deurgedra en aangespoor om nie op ‘n hopie te gaan sit nie. Ek moes aanbeweeg met my lewe.
“My seun is die ewebeeld van sy pa en Estreniq, wat nog so klein was en my nodig gehad het, het my krag gegee vir die lewe,” het sy verduidelik.
Nog ‘n verskil in haar swangerskappe was dat sy drie dae na haar seun se geboorte weer in haar klere kon pas, maar drie jaar na haar dogter se geboorte pas sy nog steeds nie in haar klere nie.
Sy het verduidelik haar kinders is haar alles, maar as sy iets kon verander, sou sy hulle op ‘n jonger ouderdom gehad het.
“Wanneer ‘n mens jonger is, het jy meer engergie om ‘n kind groot te maak, maar wanneer jy ouer is, dink jy aan aftree.
“As ek nou daaraan dink, was dit net malligheid van my om op 39 jaar swanger te word.
“Ek moes eerder vir Eduaniq op 25 gehad het en vir Estreniq op 29,” het Harmse gesê.
Sy het vertel dat, alhoewel daar ‘n 10 jaar ouderdomsverskil tussen die twee is, hulle steeds soos kat en hond baklei.
Die twee is egter ook baie be-skermend teenoor mekaar.



