Local sport

Oosskool se netbalspanne skryf geskiedenis as ligawenners

Agter die trofeë lê 'n kultuur van spanwerk, toewyding en geloof in 'n gemeenskaplike doel.

POLOKWANE – Hoewel dit onwaarskynlik is dat huidige netbalspelers van Oosskool vir Lenize Potgieter persoonlik ken, speel hulle week ná week op die Lenize Potgieter-netbalbane by dié skool.

Lenize Guidera (née Potgieter), ‘n oud-Osie, het Suid-Afrika as lid van die Spar Proteas in die Statebondspele en Netbalwêreldbeker-toernooie verteenwoordig. Haar netballoopbaan het op Oosskool se bane begin, waar talle jong meisies vandag nog hul liefde vir die sport ontdek.

Vanjaar het Oosskool nóg ‘n besondere mylpaal bereik nadat al die skool se netballigaspanne as ligawenners gekroon is.

Leah Haarhoff (o/12) gooi die bal vir ‘n spanmaat.

Jare se ontwikkeling begin vrugte afwerp

Volgens die netbalorganiseerder, Ingrid Pelzer, het daar in vorige jare twee of drie spanne as naaswenners geëindig. “Dit is die eerste keer in die 10 jaar wat ek by Oosskool is, dat al ons spanne as ligawenners uit die stryd tree,” sê sy.

Melandi Bergh (o/13) gooi ‘n doel.
Amy van As (o/12) kry beheer oor die bal en gooi dit vir ‘n spanmaat.

Pelzer verduidelik dat Oosskool agt jaar gelede begin saamwerk het met dr. Elsjé Jordaan en Minnette Dempsey van Sportisomo. Jordaan fokus op die netbalontwikkeling, terwyl Dempsey met die spelers se ingesteldheid, spanwerk en spanbou werk.

“Ons het jaarliks van o/9-vlak af ‘n nuwe netbalkultuur begin bou, ‘n kultuur waar ons meer dinamies afrig en seker maak dat spelers se denke en harte onlosmaaklik deel van netbal vorm. Ons gaan beslis hierop voortbou,” sê sy.

Meer as net vaardigheid op die baan

Volgens Pelzer is daar verskeie faktore wat tot die sukses bygedra het.

“Die feit dat ons afrigters, spelers en ouers ingekoop het in hierdie netbalkultuur, asook die blootstelling wat ons aan ons spanne bied, is van onskatbare waarde. Deur die seisoen was opgee nooit ‘n opsie nie. Ongeag wie die teenstander was, het ons meisies hul beste gegee tot die eindfluitjie geblaas het. Hulle het passievol en toegewyd elke oefening bygewoon en baie hard gewerk.”

Mieke Scheepers (o/12) verdedig haar opponent.

Hoewel geen seisoen sonder uitdagings gewaarborg is nie, sê Pelzer hulle is dankbaar dat die jaar besonder glad verloop het.

“Ons afrigters deel dieselfde waardes en kweek dit van jongs af by ons Osies. Ons praat dieselfde ‘taal’ op en langs die baan, is oop vir nuwe idees en afrigtingsmetodes, en beplan ons oefensessies doelgerig. Daarby het ons ’n ongelooflik passievolle span afrigters.”

’n Gemeenskap wat saam droom en saam wen

Sy beklemtoon ook die belangrike rol wat ouers, onderwysers en die skoolgemeenskap speel.

“Hierdie sukses sou nie moontlik gewees het sonder ons ouers nie. Hulle ondersteun ons in elke opsig. Ons hoof en die hele skoolgemeenskap staan bankvas agter ons, en dit gee ons drome vlerke. Dit is ’n voorreg om deel van die Osie-netbalfamilie te wees.”

Ná dié geskiedkundige prestasie het Pelzer ’n eenvoudige maar kragtige boodskap aan haar spelers: “Ons het die hart van kampioene. Spanwerk is die sleutel tot sukses – een span, een skool, een droom!”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Maretha Swanepoel

My name is Maretha Swanepoel and I have worked at the Polokwane Review since 2012. The decision to become a journalist came at 04:00 one Friday morning while watching news of bombings in Afghanistan and I realised I wanted to be there. Some years later, I decided to rather stay in South Africa and join the industry due to my love for writing and curiosity. Even though I can write all beats, I love human interest and community news with some schools added to the mix. Telling someone’s story and using my camera to make memories is a privilege. My interests include animals (especially dogs) and mental health. I like to spend my time with my dogs and a good book. My family is important and takes second place in my heart. God is always first.

Related Articles

Back to top button