Vereer vir haar werk
Die Nasionale Raad vir Persone met Fisieke Gestremdhede in Suid-Afrika het op die 20ste verjaarsdag van Casual Day, op 27 Februarie, vir Marina van Eeden, erepresident van die Vereniging vir Persone met Gestremdhede in Limpopo (APD) vereer vir haar 54 jaar diens as 'n vrywilliger en haar taak rondom al die komponente van die wêreld van die gestremde.
POLOKWANE – Die Nasionale Raad vir Persone met Fisieke Gestremdhede in Suid-Afrika het op die 20ste verjaarsdag van Casual Day, op 27 Februarie, vir Marina van Eeden, erepresident van die Vereniging vir Persone met Gestremdhede in Limpopo (APD) vereer vir haar 54 jaar diens as ‘n vrywilliger en haar taak rondom al die komponente van die wêreld van die gestremde.
In haar bedanking het sy gesê elke mens laat ‘n spoor na.
“Mens kan soveel waardering, emosie en dankbaarheid voel en tog bly woorde vandag so buite my vermoë.
“‘n Mens ontvang reeds soveel genade om die dinge te doen waarin jy glo dat erkenning daarvan ‘n dubbele vreugde is,” sê sy.
Verder vertel sy dat ‘n mens nie hierdie soort toekenning alleen verdien nie. “Dit is immers ‘n groot spanpoging deur vele seëninge.”
Marina vertel dat daar soveel geleenthede in haar taak is om soveel nuwe mense en nuwe dimensies van die Hemelse Vader se skepping en liefde te ondek.
“Die 54 jaar van my vrywillige werk in die wêreld van die gestremde en die 33 jaar as erepresident in Limpopo was ongelooflik verrykend met dit wat ewige waarde het.”
Marina se werk as vrywilliger het reeds drie jaar voor haar dogter, Karen, wat intellektueel gestrem is, se geboorte begin.
Na Karen se geboorte het Marina ‘n skool vir gestremde dogters in haar huis begin. Karen is later na ‘n skool in Pretoria vir persone wat serebraal gestrem is.
Terwyl sy daar was, het Marina met Nuwe Horison skool begin.
Sy hou elke dag, van 1970 af, vir haarself ‘n dagboek waarin sy skryf van die geluk en vooruitgang van die wereld van ‘n gestremde.
In haar bedanking nadat sy die toekenning ontvang het, het sy bedankings opgedra aan haar man, Dr. Calvyn van Eeden, wat in 2013 oorlede is, haar kinders, kleinkinders, familie, vriende, dokters en die organisasie (APD).
“Dit is net met baie genade wat ek dit alles kan regkry.”



