Local sport

Jong gholfspeler uit Polokwane wys sy talent op die baan

Toewyding op die gholfbaan en ‘n kalm benadering onder druk het tot ‘n sterk prestasie by ‘n nasionale toernooi gelei.

POLOKWANE – Ouers droom dikwels daarvan dat hul kinders in hul voetspore sal volg en stel hulle van jongs af aan hul belangstellings bloot.

Vroeë blootstelling aan gholf

Só het Zjuan Muller reeds op ‘n jong ouderdom kennis gemaak met gholf. Hy onthou dat hy reeds in 2014 sy eerste gholfstel gekry het, maar eers in 2022 ernstig begin speel het nadat hy sy eerste gholfles bygewoon het.

Zjuan Muller.

“My pa en oupa speel ook gholf, al speel hulle nie so goed soos ek nie,” skerts hy. “Toe my pa my vra of ek belangstel, het ek ‘ja’ gesê. Sedertdien het ek al ses toernooie gewen.”

Deurbraak by SA Kindergholftoernooi

Zjuan het onlangs aan die SA Kindergholftoernooi by die Kameeldoring Gholfklub in Mokopane deelgeneem, waar hy die eerste plek in sy ouderdomsgroep behaal het met ‘n telling van 74.

“Ek het baie hard gewerk en is bly dat ek so goed gevaar het. Dit is lekker om die resultate van my harde werk te sien.

“My langspel met die drywer het beslis die beste vir my gewerk tydens die kompetisie. Alles het net reg uitgewerk daardie dag,” sê hy.

Hoogtepunt op die 18de putjie

Een van die hoogtepunte van sy rondte was op die 18de putjie, waar hy ‘n arend aangeteken het. “Dit beteken ek het die putjie in twee houe minder as baansyfer voltooi,” verduidelik hy.

Zjuan sê hy probeer die uitdagings van die sport hanteer soos dit opduik. Wanneer hy ‘n swak hou speel en negatief begin voel, herinner hy homself daaraan om nie daarop vas te kyk nie, maar eerder op die volgende hou te fokus.

“Ek gaan gereeld gholfbaan toe om te oefen, maar in my voorbereiding vir hierdie toernooi was dit die belangrikste om my kop reg te kry sodat ek gefokus en positief kon bly. My ouers ondersteun my baie in my gholfreis.

“Hierdie oorwinning beteken baie vir my, want dit wys dat harde werk my spel verbeter.”

Doelwitte vir die seisoen

Vir die res van die seisoen is sy doelwitte om sy voorgee te verbeter en aan die einde van die jaar vir die Limpopo IPT-juniorspan gekies te word.

“Die grootste les wat ek uit hierdie toernooi geleer het, is om kalm te bly en nie negatief te raak wanneer ek ‘n slegte hou speel nie,” sê hy.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Maretha Swanepoel

My name is Maretha Swanepoel and I have worked at the Polokwane Review since 2012. The decision to become a journalist came at 04:00 one Friday morning while watching news of bombings in Afghanistan and I realised I wanted to be there. Some years later, I decided to rather stay in South Africa and join the industry due to my love for writing and curiosity. Even though I can write all beats, I love human interest and community news with some schools added to the mix. Telling someone’s story and using my camera to make memories is a privilege. My interests include animals (especially dogs) and mental health. I like to spend my time with my dogs and a good book. My family is important and takes second place in my heart. God is always first.

Related Articles

Back to top button