Bejaardes op uitstappie na wildtuin danksy Vryburgers Pietersburg
Die bejaardes van Bella Vista Ouetehuis en Jo-ann Rusoord vir Bejaardes het nie woorde gehad om te beskryf hoeveel die uitstappie na die Polokwane Wildtuin vir hulle beteken het nie.
POLOKWANE – Die bejaardes van Bella Vista Ouetehuis en Jo-ann Rusoord vir Bejaardes het nie woorde gehad om te beskryf hoeveel die uitstappie na die Polokwane Wildtuin vir hulle beteken het nie.
Sowat 30 bejaardes is deur lede van die Vryburgers Pietersburg, ‘n groep van ongeveer 20 mans wat deel is van ‘n nasionale organisasie, bederf met ‘n uitstappie en middagete by die wildtuin Sondag.
‘n Bus het die bejaardes Sondagoggend om 08:30 opgelaai by hul verskillende tehuise en was teen 09:00 by die wildtuin, waar hulle op ‘n toer deur die wildtuin geneem is.
Na hul toer is die bejaardes na ‘n lapa in die wildtuin geneem waar hulle teen 12:00 middagete geniet het; braaivleis, braaibroodjies en heerlike slaaie. Daarna het hulle koffie en nagereg geniet.
Joey Schoeman, een van die bejaardes, sê sy het die uitstappie baie geniet en is dankbaar dat die Vryburgers die dag moontlik gemaak het.
Jan de Jager was aangedaan toe hy die Vryburgers bedank het vir die dag se verrigtinge. “Dit is puik en wonderlik. Ek het nooit so iets verwag nie en dit maak my hart bly om te weet daar is mense wat vir ons ou mense omgee,” het De Jager gesê.
Nog ‘n bejaarde, Judy Smit, het gesê sy is baie dankbaar, want dit was ‘n wonderlike ervaring. “Ek waardeer dit so baie. Die wild wat ons gesien het, was ‘n belewenis en so ook die groenigheid van die natuur. Dit was ‘n wonderlike sonnige dag met goeie geselskap en lekker kos. Dit alles te danke aan die Vryburgers, want as dit nie vir hulle was nie sou ons nooit hierdie uitstappie gehad het nie. Baie dankie”.
Aggie Ströh, lid van die Vryburgers, het gesê dit is goed om terug te gee aan die gemeenskap en dit was vir hulle ‘n groot voorreg om die bejaardes te kon uitneem vir die dag.
“Met Moedersdag wat onlangs verby is en Vadersdag om die draai, is dit net gepas dat ons die ouer mense bietjie bederf. Die Vryburgers spesialiseer in welsynswerk, veral om minderbevoorregte kinders en oumense te help. Ons doel is om mense wat dit nodig het se lewens te verbeter,” het Ströh verduidelik.
Die Vryburgers het Limpopo Coaches bedank vir die bus en busbestuurder wat gratis tot hul beskikking gestel is vir die uitstappie asook Amigos Liquor Store wat die koeldranke en vrugtesappe geskenk het.
Die Vryburgers Pietersburg, in samewerking met Vryburgers Robertson, beplan om op 4 September ‘n wynveiling by die Pietersburg Klub aan te bied om geld vir liefdadigheid in te samel.



