Hartseer wéér vir Adlem-gesin
Tragedie het die Adlem-gesin vir die tweede keer in agt maande getref toe Johndré Adlem (25) Saterdag gesterf het.
POLOKWANE – Tragedie het die Adlem-gesin vir die tweede keer in agt maande getref toe Johndré Adlem (25) Saterdag gesterf het.
Karin Adlem en haar man, Willie, het hul oudste seun, Warren, verlede jaar in Oktober aan die dood afgestaan na ‘n kwadfietsongeluk.
Karin het aan Review vertel Johndré het verlede Donderdag in sy stoel by sy werk, Gordonia Construction, inmekaargesak. “Sy kantoor was op die boonste vloer van die gebou. Sy baas, wie se kantoor op die onderste vloer was, het hom geroep, maar Johndré het nie gereageer nie. Sy baas het gaan kyk wat aangaan en hom in sy stoel aangetref,” het Karin verduidelik.
“Sedert Warren se dood het ons nooit die huis verlaat sonder om mekaar te groet met ‘n druk en ‘n soen nie. Woensdagaand het Johndré baie vreemd opgetree. Hy het ons almal gedwing om saam te wees. Die Here het geweet,” het sy gesê.
Eugene Schreiber, ‘n familievriend en paramedikus, het aan Review vertel dat Johndré verlede Donderdag in die Mediclinic Limpopo opgeneem is en in ongevalle behandel is nadat sy baas met hom na dié hospitaal gejaag het.
“Terwyl Johndré in die ongevalle-afdeling was, het hulle hom suurstof gegee en bloed getrek vir toetse. Hy het ook daar ‘n epileptiese aanval gekry. Daarna is hy na die hoësorgeenheid geskuif vanwaar hy verskeie skanderings ondergaan het. Die dokters het gevind dat hy bloeding op die brein gehad het en dat dit na ‘n beroerte-aanval gelyk het,” het Schreiber verduidelik.
Na bladsy 2
Van bladsy 1
“Vrydagoggend het hulle hom vir ‘n MRI-skandering geneem, wat gewys het dat hy ‘n beroerte in sy breinstam gehad het. Die breinstam is ‘n baie belangrike deel van die brein omdat dit liggaamsfunksies soos die hartklop beheer.”
Karin het vertel dat sy by Johndré was toe hy Saterdag gesterf het. “Ek het gesien hoe hy sterf. Hy het net geslaap. God gaan ons nou krag gee. Ons sal oorleef.”
Karin en Willie het nog twee seuns en Karin het verduidelik hoe hul jongste seun homself besig hou, want hy kan nie sy broer se dood verwerk nie.
Sy het vertel dat haar jongste seun berading moes kry na Warren se dood en dat sy hom weer vir beradingsessies sal neem.
“Ek wil vir my familie sê om nie hul geloof in God te verloor nie. God straf ons nie, dit is alles deel van Sy plan. Johndré het altyd vir ander mense om hom gebid,” het Karin gesê.
Johndré se dood het ook die gemeenskap van Polokwane geruk, soos wat duidelik was in die boodskappe op sy Facebook-blad.
Karen Rall skryf: “Hoe sê mens totsiens vir een ongelooflike spesiale persoon. Johndré, jou plekkie ons harte sal altyd daar wees. Ons sal jou altyd mis. Dankie vir die wonderlike persoon wat jy was en vir dit wat jy in ons lewens beteken het. God se tyd is nie ons tyd nie en ons sal berus by God se besluit; sal jou altyd en vir ewig mis”.
Petrus van den Berg skryf: “My ou pêl, jy gaan gemis word deur baie. Jy’t aan soveel se harte geraak. Dit was ‘n blessing en voorreg om iemand so awesome soos jy te kon ken. Rus in vrede my vriend. Ons gaan jou vriendelikheid bitter baie mis. Ons sien jou eendag weer”.
Johndré se beste vriend, Johny Wilken, het aan Review gesê dat Johndré ‘n broer, seun en vriend duisend was.
“Ek het hom in 19 jaar nie een keer hoor kla of enigiets negatief hoor sê van iemand nie. Hy het altyd tyd gehad vir almal en as hy nie tyd gehad het nie, het hy tyd gemaak,” het Johny vertel.
“Met sy sound in sy kar het mens altyd geweet waar hy is en met sy glimlag, goeie maniere en maer lyfie het hy mense laat glimlag.
“Johndré het daagliks geleef om soos sy pa te wees en het almal om hom, veral sy ouers, gerespekteer.
“Daar was niks onder die son wat hy nie kon maak of regmaak met sy hande nie.
“Baie mense het hom liefgehad en hy het daagliks liefde uitgestraal.”
Johndré se begrafnis vind Saterdag om 11:00 vanuit die Ou Apostoliese Kerk Polokwane op die hoek van Bekker en Elandstraat plaas.



