CrimeNews

Polisie erken hul kan drawwers nie beskerm

Die polisie het nie die hulpmiddels, mannekrag of vervoer om drawwers te beskerm nie.

POLOKWANE – Die polisie het nie die hulpmiddels, mannekrag of vervoer om drawwers te beskerm nie.

Dít is in soveel woorde hierdie week deur die polisiewoordvoerder in die stad, Ntobeng Phala, bevestig.

Sy kommentaar is na aanleiding van die aanval op Sean Jacobs en Ounooi Breedt verlede Vrydagoggend tydens ‘n drafsessie.

“Ons het nie die hulpbronne om in soveel rigtings te patroleer nie en daarom versoek ons die drawwersgemeenskap om in klubverband te hardloop,” het hy gemaan.

Hierdie bekentenis hou min betekenis in vir die sekretaris van Limpopo Atletiek (Lima), Leon Bannua, wat sê die polisie behoort na die hoeveelste aanval die afgelope tyd, eerder na oplossings te soek.

Hy het ook die polisie se raad aan drawwers, om hul waardevolle items tuis te los, as onrealisties afgemaak.

“As ‘n atleet beseer word langs die pad, gaan hy sy selfoon gebruik om iemand te bel. Atlete se horlosies dui hulle hardlooptye, roetes en selfs hartkloptempo’s aan en atlete betaal vanselfsprekend ‘n paar rand vir goeie tekkies.”

Volgens Bannau is verlede week se voorval die vierde van dié soort in sewe maande.

“Padwedlope as ‘n sport word ‘n knou toegedien wanneer atlete voel hulle word geteiken. Polokwane en Limpopo spog vanjaar met vier atlete onder die top 10 Comrades-atlete. Maar voorvalle soos dié boesem vrees onder atlete in.”

Hy het bygevoeg dat atlete nie meer alleen wil oefen nie, maar dit lei tot vermin-derde getalle eerder as groter groepe.

Intussen het Phala gesê die grootste probleem in die voorkoming van aanvalle op drawwers is dat daar ten minste 20 drawwers in die stad is wat elke dag in verskillende rigtings hardloop. Juis daarom rig die polisie ‘n versoek op klubs om groepsoefeninge te begin fasiliteer.

“Die gevaar van ‘n rooftog verminder drasties indien drawwers in ‘n groep hardloop. Hulle kan dan ook hulle waardevolle items met die nodige gemoedsrus saamneem.”

Hy het ook voorgestel dat gemeen-skapspolisiëringsforums betrokke raak en voertuie saam met drawwers uitstuur.

Phala het gevra dat drawwers sake sal aanmeld indien hulle slagoffers van misdaadvoorvalle is. “Ons bly toegewyd om die boosdoeners vas te trek.”

Jacobs, wat vier keer met ‘n mes in Munniklaan naby Thornhill gesteek is en van sy tekkies en selfoon beroof is, sterk reeds goed aan. Hy is Sondag uit die hospitaal ontslaan en volgens sy vrou, Ansonia, reeds terug in die tuig.

Sy sê alhoewel die polisie hulle besoek het, was daar geen leidrade nie.

“Alhoewel sy wonde goed herstel kan hy steeds nie ver ente loop nie, omdat dit nog te uitputtend is,” het sy vertel.

Jacobs bedryf sy eie firma en volgens sy vrou is daar nie veel tyd om “laag te lê” nie.

Bannau het drawwers aangemoedig om die nodige weerkaatsers en duidelik sigbare oefendrag aan te hê om hulle meer sigbaar te maak vir voertuie.

Hy beveel ook aan dat atlete teen die verkeer sal inhardloop.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button