EntertainmentLifestyleNewsSchools

Drama op die planke

ATKV-Tienertoneel is 'n wonderlike toneelspelkompetisie vir tieners.

POLOKWANE – ATKV-Tienertoneel is ‘n wonderlike toneelspelkompetisie vir tieners.

“Die droom van die projek is om ‘n liefde vir Afrikaanse toneelspel en -kyk by hoërskoolleerders te kweek sodat leerders hulle eie kreatiwiteit en talente daardeur kan ontgin en ontwikkel,” vertel Nicole Senekal, regiseur van Curro Heuwelkruin se verhoogproduksies.

Verlede Woensdag het drama-leerders van dié skool twee produksies op die planke gebring.

“Die eerste produksie, In die Selle Bootjie is die eerste van sy soort by Heuwelkruin. Die hele produksie bestaan uit gr. 12-dramatiese kunsleerders.

Die gr. 12’s moes self die teks skryf of verwerk én die tegniese aspek van die produksie behartig,” sê Senekal.

Volgens Senekal is die ander produksie, As die Rok Pas, ‘n werkswinkelproduksie wat saamgestel is deur weke se improvasie en harde werk.

“Daar word ook elemente van fisiese teater gebruik om nog ‘n ander spektrum van die drama-kurrikulum te ontwikkel.”

In die Selle Bootjie se hoofkarakters was Prim, gespeel deur Carla Koen, en Party, gespeel deur Juan-Merié Venter.

Prim en Party is twee sussies wat kontak verloor het, maar later alleen op ‘n lewensbootjie in die oop oseaan hul verskille uitklaar en verduidelik het waarom hulle voel en optree soos wat hulle doen.

Die tema van aborsie en verwerping is ook in hierdie toneelstuk aangespreek.

In As die Rok Pas is eetversteurings aangespreek.

Karlien, gespeel deur Shimone Bojé, raak al hoe meer selfbewus oor haar liggaam en haar ma, gespeel deur Juan-Merié Venter, maak dinge vir haar moeiliker deur haar nie net dieetpille te voer nie, maar ook deur haar op elke vlak te druk om perfek te wees.

Op die ou einde is Karlien dood, na vele behandelings by die sielkundige.

Curro Heuwelkruin het Vrydag met beide produksies na die Promusica Teater in Roodepoort vertrek, waar hulle aan die Gauteng-Wes ATKV-Tienertoneel streekkompetisie sou deelneem.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button