POLOKWANE – Lede van die Edwel-buurtwag het die afgelope naweek hulle lewens in gevaar gestel in hul pogings om te sorg dat Welgelegen en Eduanpark in ‘n veiliger omgewing omskep word.
Saterdagoggend is ‘n inbreker op heterdaad betrap in ‘n huis in Baymanstraat deur ‘n huiswerker wat na die huis gekyk het terwyl die eienaars uitstedig was. Sy het uitgestorm en die bure geroep om te kom help.
Die bure, lede van die Edwel-buurtwag, het opgedaag en die inbreker het op hulle geskiet.
Hulle het dadelik ‘n ander Edwel-lid geskakel en dié lid het om hulp geroep op die burgerbandradio. Binne minute was verskeie Edwel-reaksielede op die toneel om te help. Die polisie is ook intussen gekontak.
Die lede het die inbreker in die huis oorrompel en hom uit die huis gebring waar hulle hom geboei het in afwagting van die polisie, wat volgens ooggetuies ongeveer 20 minute later opgedaag het.
Volgens een van die buurtwag-lede op die toneel word vermoed dat die man met ander misdade in Hollandstraat verbind kan word aangesien die wapen wat hy gebruik, ‘n gesteelde wapen was wat glo gekoppel kan word aan dié misdade.
In tweede voorval het ‘n gesin van Welgelegen Saterdagmiddag ‘n draai met hul fietse gaan ry toe die seun van sy fiets gestamp is in Dap Naudéstraat. Die bestuurder van die voertuig het weggejaag van die ongelukstoneel.
‘n Ooggetuie wat gesien wat gebeur het, het die voertuig agternagesit.
Die voertuig het die ooggetuie ontglip, maar nie voordat ‘n beskrywing van die bestuurder, die voertuig asook die registrasienommer verkry is nie. Edwel-lede het die beskrywing van die voertuig aan ander lede deurgegee.
Terwyl die gesin nog by die hospitaal was, het een van die Edwel-lede die voertuig opgemerk by ‘n huis in die omgewing en nog Edwel-lede het net na 17:00 by die huis opgedaag.
Die polisie is ook dadelik gekontak, maar het voldens buurt-waglede op die toneel eers ná 19:00 op die toneel opgedaag na verskeie oproepe en versekerings dat polisiebeamptes op pad was.
Een van die Edwel lede het ook na die polisiestasie gery om iemand te probeer kry wat hulle kon bystaan in hierdie insident.
Die slagoffer van die tref-en-trap is intussen uit die hospitaal ontslaan.
Die bestuur van die Edwel- buurtwag het elkeen van die Edwel-lede wat by hierdie insidente betrokke was bedank.
“Ons lede het die bestuurder van die voertuig asook die voertuig betrokke by die insident vir ure opgepas totdat die polisie opgedaag het. Ons sê dankie vir jul getroue bystand en onvoorwaardelike verbintenis om ons omgewing veiliger te maak,” het Antuanette Pretorius, lid van die bestuur, gesê.
Review het die Polokwane polisie gekontak oor die bewerings dat die polisie baie lank geneem het om op te daag, ten spyte van verskeie oproepe en opvolgbesoeke deur Edwel-lede.
Polokwane polisiewoordvoerder, AO Lesiba Ramoshaba, het gesê inwoners kan tak-, sektor en stasiebevelvoerders skakel indien hulle ontevrede is met die polisie se dienslewering. Hy het ook gesê die publiek het die reg om ‘n klag teen die polisie te lê indien hulle dit nodig sou vind.
Kontaknommers:
• Takbevelvoerder – 082 565 3212.
• Stasiebevelvoerder – 082 565 8155.
• Sektorbevelvoerder – 072 730 1843.



