Kerk hekel ‘n wêreldrekord
Verlede Vrydag was die rugbyveld van Laerskool Pietersburg-Oos 'n miernes van bedrywigheid toe die grootste gehekelde kombers in die wêreld daar sy lê gekry het om gemeet te word.
POLOKWANE – Verlede Vrydag was die rugbyveld van Laerskool Pietersburg-Oos ‘n miernes van bedrywigheid toe die grootste gehekelde kombers in die wêreld daar sy lê gekry het om gemeet te word.
Die Nederduitcsh Hervormde Kerk Welgelegen Pietersburg het belangstelling van regoor die land uitgelok en nuusspanne van eNCA en Kwêla het ge-reed gestaan om hierdie historiese oomblik op film vas te lê.
“Die kerk se Uitreik-Kombersprojek het begin met ‘n droom van sommer baie komberse wat uitgedeel kan word aan sorgafhanklike bejaaardes en kinders.
“Ons het gehoor van bejaardes wat in sekere versorgingseenhede handdoeke oor hulle bene gooi. Om baie kniekomberse bymekaar te maak sou groot motivering vra. Guinness World Records het dié motivering baie makliker gemaak,” het ds. Henk Joubert vertel.
Die grootste gehekelde kombers in die wêreld was tot Vrydag toe ‘n reuse 24,68m x 11,58 of 285,79m². Die gemeente het toe besluit om hierdie rekord te verdubbel en gemik om ‘n kombers van 600m² te hekel. Mans en vroue en kinders het almal saamgehekel.
Dit sou beteken dat die gemeente 400 kniekombersies van 1,5m x 1m sou moes hekel.
Dié komberse sou dan aanmekaar gewerk word om die rekord te troef.
Die projek is in Desember gebore en Joubert se hele gesin het deelgeneem aan die projek.
In Februarie het die res van die gemeente ook in alle erns begin hekel.
“Die mense wat nie geweet het hoe om te hekel nie, is vinnig-vinnig geleer en, soos wat die hekelkoors toegeneem het, het al hoe meer hekelentoesiaste ingespring om te help met die projek.Om die mikpunt van 400 komberse te bereik moes daar 66 komberse per maand gehekel word. In Mei reeds is die aanvanklike doelwit van 400 komberse bereik en die volgende mylpaal word toe 500. Op 568 kniekomberse is die projek gestaak aangesien die kombers reghoekig moet wees en daar nog tyd toegelaat moes word om die individuele komberse aanmekaar te hekel,” het Joubert verduidelik.
Om vir die rekord te kwalifiseer moes die groot kombers op skaal wees en dieselfde funksie dien as ‘n gewone kom-bers. Elke individuele kombers moes gehekel wees. Al die individuele komberse moes moet aan mekaar vasgehekel wees en moes van dieselfde materiaal gemaak wees. Die dag wat die rekord opgestel word, moet die kombers uitgestal word in ‘n publieke plek waar die publiek toegang het om te kom kyk na die kombers.
Vrydag het die gemeente die rekordkombers by Oosskool uitgestal en ‘n landmeter het die afmetings geneem.
“Daar is ‘n spreekwoord wat sê solank jy al jou kinders onder een kombers kan toemaak het jy nie probleme nie. Wie sou kon dink ons gaan 1 000 kinders kan toemaak,” het Joubert gesê.
Al die dokumente en bewyse is na Guinness World Records se kantore in Londen gestuur en die gemeente sal oor ‘n maand of so weet of die kerk wel die nuwe rekordhouer is.
Interessante statistieke:
• Dit het 25 weke geneem om die kombers te hekel.
• Die wol wat vir die kombers gebruik is se waarde beloop R81 792.
• Daar is 1 278 km se wol gebruik.
• Die kombers weeg 511,2 kg.
• Die hoeveelheid kettings wat gehekel is om die wêreldrekord op te stel was 23 997 204.



