Suksesvolle operasie bring nuwe hoop vir Frikkie
Ná verskeie mediese prosedures is daar bemoedigende tekens van vordering in ’n uitdagende herstelproses.
POLOKWANE – Frikkie Nel (25), wat onlangs in ’n ernstige botsing betrokke was, toon bemoedigende tekens van herstel.
Die botsing waarin hy betrokke was, het op 23 Mei, sowat 40km buite Polokwane op die R81 plaasgevind.

MEER HIEROOR: Jong man ernstig beseer ná botsing buite Polokwane
Bewussyn herwin ná breinoperasie
Frikkie is in die Pietersburg Provinsiale Hospitaal opgeneem, waar hy in ’n medies-geïnduseerde koma geplaas is.
Hy is vroeg Maandagoggend omstreeks 03:00 teater toe geneem, waar dokters bloeding op sy brein behandel het. Later dieselfde middag het Frikkie sy bewussyn herwin en kon sy familie hom besoek. Volgens hulle kon daar reeds in ’n beperkte mate met hom gekommunikeer word.
Ernstige gesig- en kopbeserings
Hy het ernstige gesigbeserings opgedoen, insluitend ’n gebreekte kakebeen en neus, asook verskeie ander frakture in sy gesig. Teen Dinsdag kon die familie hul opregte dankbaarheid oor sy vordering uitspreek.
Volgens die familie se woordvoerder, Micaela Nel, het die bloeding op sy brein gestop.
“Dit is ’n antwoord op ons gebede. Frikkie het Maandagaand ’n groot operasie ondergaan waartydens dokters sy skedel herstel en sy brein gestabiliseer het. Ons is ongelooflik verlig om te kan sê dat die operasie suksesvol was,” het sy gesê.
Meer operasies wag nog
Tydens dieselfde prosedure het ’n oogarts Frikkie se oë deeglik ondersoek en skoongemaak.
“Die frakture aan sy gesig en kakebeen is nie tydens hierdie operasie herstel nie. Hierdie komplekse beserings sal tydens opvolgoperasies aangespreek word. Ons wag tans op ’n kwotasie van die oogarts voordat verdere behandeling aan sy oë gedoen word. Daarna sal die kakebeen herstel word,” het Micaela verduidelik.
Familie vra vir volgehoue gebede
Sy erken dat die herstelproses lank en uitdagend sal wees, maar dat Frikkie goed vorder.
“Ons vra dat mense sal aanhou om vir Frikkie te bid terwyl hy van hierdie uitmergelende prosedures herstel. Bid vir beskerming teen infeksie, vir pynverligting en vir krag terwyl sy liggaam genees.

“Hy is ’n seun, broer, man en pa van ’n pragtige agt maande oue dogtertjie, Miané. Hy het ’n groot berg om te klim, maar ons weet ons God is groter. Dankie aan almal wat saam met ons in geloof staan. Ons sal julle op hoogte hou,” het sy gesê.




