Zander boer vooruit in Jongboer-stryd
Zander Ernst is verlede Vrydagaand aangewys as Toyota se Limpopo-jongboer van die jaar tydens 'n seremonie by Bolivia Lodge in die stad.
POLOKWANE – Zander Ernst is verlede Vrydagaand aangewys as Toyota se Limpopo-jongboer van die jaar tydens ‘n seremonie by Bolivia Lodge in die stad.
Zander, ‘n advokadopeer-boer van Magoebaskloof, het teen Neil Calitz, Emile O’Connel en Ruan Potgieter te staan gekom in dié ronde van hierdie jaarlikse kompetisie.
Hy dring deur na die nasionale ronde van die Toyota Jongboer-kompetisie waar die wenners van al nege provinsies teen mekaar te staan gaan kom.
Die kompetisie is vir boere jonger as 35 jaar.
Volgens Willem van Jaarsveld, hoofuitvoerendebeampte van Agri Limpopo, kyk beoordelaars na die kandidaat se beplanning en finansiële bestuur asook die manier waarop hy sy arbeiders en meganisasie hanteer.
Toyota is die hoofborg van hierdie kompetisie en Marthinus Beukes, ver-koopsbestuurder van Lexus Polokwane, het Toyota by die prysuitdelingsseremonie verteenwoordig.
Volgens Beukes is Toyota reeds vir 15 jaar betrokke by die kompetisie. “Dit is werklik vir ons ‘n voorreg om deel te hê aan so ‘n kompetisie.”
Die gasspreker van die aand was Glen Steyn van Glen Steyn and Associates, ‘n ontwikkelingsekonoom wat met die gaste gesels het oor die ekonomie en die landboubedryf.
“Daar is twee belangrike aspekte van ‘n boer se sukses: hoe strategies hy sy boerdery beplan en bestuur en hoe betrokke hy by sy onmiddellike gemeenskap is.
“Ek het nie verwag om te wen nie en ek is ongelooflik bly dat ek wel gewen het. Dit is ‘n besondere voorreg. Ek het nie geweet wat om te verwag nie.
“My pa het ‘n passie vir boerdery by ons gekweek en dit is ‘n voorreg om saam met hom en my broer te boer,” het Zander gesê.



