Swart week vir Kruinies na 2 leerders se tragiese dood
Verlede week was 'n week van skokke en hartseer vir die leerders, ouers en personeel van Curro Heuwelkruin.

POLOKWANE – Verlede week was ‘n week van skokke en hartseer vir die leerders, ouers en personeel van Curro Heuwelkruin.
Binne vier dae het dié skool twee leerders aan die dood afgestaan.
Nicole Botha (18) is Donderdag ‘n ‘n motorongeluk dood nadat ‘n vragmotor teen die dubbelkajuit-bakkie waarin sy en haar ma, Lisa, gery het gebots het.
Volgens Jeff Botha, Nicole se pa, was ma en dogter oppad na die Blouberg-ryskool waar Nicole ‘n ruiter was met Lisa aan die stuur.
“‘n Swaar voertuig het glo ‘n ander motor probeer verbysteek en het die bakkie reg van voor getref. Lisa kon niks doen om die ongeluk te verhoed nie. Sy is in die hospitaal op geneem, maar is intussen ontslaan. Sy sterk by die huis aan,” het hy gesê.
Die ongeluk het ongeveer 25km buite Polokwane op die Mogwadi-pad gebeur.
Nicole was Curro Heuwelkruin Hoërskool se onderhoofmeisie vanjaar en haar dood het skokgolwe deur die stad se gemeenskap gestuur.
“Sy was ‘n geliefde leerling wat met almal oor die weg gekom het. Sy was ‘n skrander leerling wat selfs in haar gr. 12 jaar ‘n A-gemiddeld gehandhaaf het. Haar groot liefde vir perde was alombekend en as ruiter het sy uitgeblink en jaarliks geskitter op nasionale skoue,” het Eben Lingenfelder, uitvoerende hoof van Heuwelkruin aan Review gesê.
“Nicole se onkreukbare karakter en puik maniere was ‘n voorbeeld vir almal. Ons was bevoorreg om haar as leerder in ons skool te hê. Heuwelkruin moet afskeid neem van een van sy blinkste sterre.”
Nicole se kêrel van die afgelope vier jaar, Johan Smit, het ook sy skok en hartseer uitgespreek.
“Sy was my alles en ek was oneindig baie lief vir haar. Dit gaan moeilik wees om aan te beweeg. Sy het my verskriklik gelukkig gemaak en ek mis haar al klaar. Ek sukkel om aan enigiets anders te dink,” het hy gesê.
Lingenvelder het ook gesê die skool bied hul simpatie aan Nicole se ouers, sowel as haar broer, Tyler, en Smit.
“Mag die God van Liefde almal wat verbyster staan in Sy groot liefde omvou en vir elkeen Sy Goddelike troos bied.”
Nicole se begrafnis vind vandag (Dinsdag) plaas vanuid die AGS Taberna Dei se Ooskampus in Bekkerstraat.
Sondag het Heuwelkruin nog ‘n leerder aan die dood afgestaan. Riané van den Berg (14) is skielik oorlede en, volgens Lingenfelder, vind leerders en onderwysers dit moeilik om sin te maak uit hierdie geliefde leerder se dood.
“Sy was ‘n stil en geliefde kind,” het hy vertel.
Hy het gesê berading sal beskikbaar wees vir die leerders en personeel om hulle te help om hierdie twee tragedies te verwerk.
Riané se pa, Adriaan, werk in die buiteland en onder hierdie tragiese omstandighede het haar ma, Hilde, besluit om eerder te wag tot sy terugkeer voordat sy enige belangrike besluite neem of met die media sal praat.



