Local NewsNews

Yvonne help graag waar sy kan by die hospitium

Dit is in my geaardheid om ander te help, sê Yvonne Terblanche, beter bekend onder die mense wat sy help as Ouma.

POLOKWANE – Dit is in my geaardheid om ander te help, sê Yvonne Terblanche, beter bekend onder die mense wat sy help as Ouma.

Yvonne is ‘n vrywilliger by die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa) se Theunis Fichardt Hospitium in Collegestraat.

Kansa het in Junie hul Omgeeweek gevier en Review met Yvonne gesels oor haar werk en ervaring by Kansa.

Yvonne is ‘n oud-suster van die Pietersburg Provinsiale Hospitaal. Sy het vir sowat 37 jaar by dié hospitaal gewerk, maar moes op vroeë pensioen gaan in 1996 nadat sy met klierkanker gediagnoseer is in 1989.

“Ek het vir ses jaar chemoterapie ontvang in Pretoria. In September 1996 het ek by die hospitium begin werk as ‘n nagskofsuster, maar voor ek hier begin het, moes ek eers na die Namakwaland se blomme gaan kyk. Dit was nog altyd my droom gewees.

“Ek het tot in April 2003 as suster by die hospitium gewerk. Ek is dieselfde jaar weer gediagnoseer met kanker in my een van my bene. Ek het terapie gekry en is toe weer terug na die hospitium waar ek in die tuin gehelp het. Later het ek pasiënte aangery na die hospitaal en hul doktersbesoeke,” sê Terblanche.

Die ma van drie seuns sê sy geniet dit om ander te help.

“Dit is in my natuur om ander mense te help. Buiten dat ek help met die tuin en pasiënte, help ek met die basaarreëlings en ook fondsinsamelings vir Kansa. Ek dink ek kan nie afskeid van die plek neem nie omdat ek self ‘n kankeroorwinnaar is. Ek het ook my ma, broer, twee susters en drie van my suster se kleinkinders aan kanker verloor,” vertel Yvonne.

Haar man is in 1968 oorlede, maar Yvonne sê sy is glad nie eensaam nie, want sy het haar kinders en vyf kleinkinders altyd by haar.

Hulle baklei glo baie met haar omdat sy haarself ooreis by tye.

“Hulle sê ek moet dit rustiger vat, maar tot my predikant het gesê die enigste tyd wanneer ek gaan rustig wees is wanner ek in ‘n boks kom.

“Ek moet bieg ek raak gou moeg deesdae, maar ek help graag waar ek kan,” sê sy.

Corné Marais, Kansa se kantoorbestuurder, sê Yvonne is ‘n aanwins vir die organisasie.

“Sy is ‘n raakvatter, goeie organiseerder, sal 600 myl loop vir ‘n mens en is baie liefdevol.

“As sy die dag hier weggaan sal ons verlore wees, want sy hou regtig hierdie plek aan die gang,” vertel Marais.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button