Local NewsNews

Annalie was ‘n toonbeeld van liefde

'n Liefdevolle mens met 'n hart van goud en 'n onwrikbare geloof; dis hoe vriende en familie vir Annalie Potgieter beskryf.

POLOKWANE – ‘n Liefdevolle mens met ‘n hart van goud en ‘n onwrikbare geloof; dis hoe vriende en familie vir Annalie Potgieter beskryf.

Annalie is Dinsdag vanuit die N.G. Kerk Pietersburg-Noord begrawe nadat sy verlede Donderdag haar stryd teen kanker verloor het.

Die diens het haar liefde vir mense en haar positiewe invloed op ander se lewens weerspieël.

Deur die jare het sy diep spore getrap in die gemeenskap en veral kinders het by haar betrokkenheid by Oosskool se nasorgsentrum later jare gebaat.

Vriende en familie het met ontsag gepraat oor die deernis, deursettingsvermoë, liefde en vertroue waarmee Annalie vir jare lank haar jongste seun, Janco, versorg het. Janco was serebraal verlam en sy sorg het baie tyd, aandag en spesiale reëlings geverg.

Haar peetdogter, Madelein Klopper, het vertel hoe Annalie altyd positief gebly het en hoe selfs Janco se dood nie haar geloof in God kon laat wankel nie.

Madelein het Annalie ook as ‘n kreatiewe mens beskryf.

“Wanneer iemand ‘n spe-siale kledingstuk nodig gehad het, was sy altyd bereid om te help. Ek onthou nog al die spanning en nagmerries wat sy beleef het toe sy my matriekafskeidrok gemaak het. Sy wou hê dit moes perfek wees vir my en dit was.

“Sy was vir ons almal ‘n voorbeeld van hoe God se liefde lyk,” het sy vertel.

Annalie se suster, Hermien Groenewalt, het vertel dat haar suster graag na mense uitgereik het.

“Haar geloof in God is elke dag nog ‘n voorbeeld vir ons almal en my lewe gaan leeg wees sonder haar.”

Op Annalie se kis Dinsdag was ‘n briefie van haar man, Johan, wat boekdele gespreek het.

“Ek sal jou vir ewig liefhê my blou-oog vroutjie.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button