Anrulé verseker ‘n sterreliggie-troue
Geraam in 'n see van sterretjies, omring deur liggies.
POLOKWANE – Geraam in ‘n see van sterretjies, omring deur liggies.
Wanneer Bernadine Hugo en Gert du Preez by hulle bruilofstafel aansit, sal hulle omring wees deur feëtjieliggies danksy die bydrae van Anrulé Plant and Décor Hire.
Anrulé se eienaar, Sonja van Ryneveld, het groot planne om die bruidstafel ekstra spesiaal te maak vir Polokwane se troue van die jaar.
“Ons gaan ‘n stellasieraamwerk opstel waardeur ons feëtjieliggies gaan vleg om ‘n sterretjie-atmosfeer te skep,” sê sy.
“Daarna gaan ons silwer organza-materiaal bo-oor drapeer om die effek nog meer treffend te maak.”
Anrulé Plant and Décor Hire spesialiseer in funksiedekor en Sonja sê hulle kliënte kan met enige tema of idee by hulle aan-klop vir professionele diens en bystand met raad en daad.
Hulle hanteer al vir 15 jaar lank besigheidsfunksies, verjaardagpartytjies, troues en ook ander funksies wat dekor of plante nodig het.
“Jy hoef nie die hele pakket by ons te huur nie. Mense is welkom om net sekere items soos tafelnommers of tafeldoeke by ons te huur,” verduidelik Sonja.
Sy sê die 11 personeellede van Anrulé Plant and Décor Hire sien saam met Bernadine en Gert uit na hulle troue.
“Ons help nie sommer enigeen nie en kyk altyd eers of ‘n saak gewig dra. Bernadine se storie het ons geraak en ons is baie bly dat ons haar kan help,” sê Sonja.
Bo en behalwe die sterretjies-effek het Bernadine ook lint by Anrulé gekry wat sy om haar handruiker gaan draai. Die tafelnommers word ook deur Anrulé geborg.
“Ek is baie opgewonde oor die feëtjieliggies. Dit gaan die onthaalsaal baie mooi laat lyk, so asof dit regte sterre is,” sê Bernadine.



