Local NewsNews

Dapper Jamie pak die lewe een dag op ‘n slag aan

Die lewe mag hom dalk 'n harde slag toegedien het, maar Jamie Badenhorst sê hy gaan nie bly lê nie.

MAKHADO – Die lewe mag hom dalk ‘n harde slag toegedien het, maar Jamie Badenhorst sê hy gaan nie bly lê nie.

Jamie, ‘n leerder van die CVO-skool Hanglip, was op 20 Junie in ‘n kwadfiets-ongeluk betrokke waarna sy linkerbeen geamputeer is.

Hy het saam met twee vriende op hul kwadfietse by die Spiesdam gaan rondry. Met hulle terugkeer van die dam af, by die Sithumule-padkruising, het sy vriende omgedraai nadat hulle besef het Jamie het agterweë gebly.

Hulle het op ‘n erg beseerde Jamie afgekom. Hy het vir iets in die pad uitgeswaai en daarna met ‘n padroller gebots wat langs die pad was.

Volgens Jamie se ma Sanette weet niemand presies wat gebeur het nie en Jamie self kan nie onthou nie. Jamie is daarna in die Zoutpansberg Privaat Hospitaal gestabiliseer waarna hy dieselfde aand oorgeplaas na die Mediclinic Limpopo in Polokwane waar daar na sy wonde gekyk is en na ‘n evaluering besluit is om sy linkerbeen tussen die heup en die knie te amputeer.

Review het met Jamie gaan gesels om te hoor hoe dit nou met hom gaan.

Hy het vertel dat die eerste ding wat hy gedoen het nadat hy uit die hospitaal ontslaan is, was om by die skool te gaan oë wys.

“Dis vir my heerlik om by die huis te wees. Wanneer mens gewoond is aan die buitelewe, is dit baie moeilik om heeldag in die hospitaal te wees.”

Jamie het verduidelik dat die ongeluk hom ‘n nuwe perspektief op die lewe gegee het. “Ek besef nou hoe kort en onvoorspelbaar die lewe is. Mens moet elke dag leef asof dit jou laaste dag op aarde is.”

Ondanks die geweldige terugslag, was Jamie steeds positief en vol entoesiasme. “Ek moet nou net planne uitdink om alledaagse dinge te doen wat altyd vanselfsprekend vir my was. Die feit dat ek my been verloor het sal my ‘n bietjie terughou, maar dit gaan my verseker nie stop nie.”

Hy pak die lewe met geesdrif aan en het selfs al sy pa se bakkie en sy ma se kar bestuur. “Nou kan ek wettig op die parkering vir gestremdes stop,” het hy tong in die kies laat hoor.

Jamie het die inwoners van Makhado en elke mens wat hom op sy reis ondersteun het, bedank.

Dit was ongelooflik om te sien hoeveel mense vir my omgee. Mens leer jou vriende ken in jou uur van nood. Die vriende en familie wat elke dag by die hospitaal kom kuier het, het die tyd daar baie makliker gemaak.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button