Familiebande van suiwer goud
Bloed mag dalk dikker wees as water, maar familiebande bind meer as net bloedfamilie saam.
POLOKWANE – Bloed mag dalk dikker wees as water, maar familiebande bind meer as net bloedfamilie saam.
Elize Coetzee en Paulina Bopape sê hulle is al vir 45 jaar lank familie en wil nie een dag sonder mekaar se ondersteuning en geselskap lewe nie.
Teen Paulina se kamermure hang foto’s van die Coetzees; dis tog immers wat mens met familiefoto’s maak.
Elize vertel hoe sy vir Paulina ontmoet het toe hulle beide nog jong vroue was in 1969.
Sy sê sy het vir Paulina se ouers gevra of sy vir Paulina in haar huis mag inneem as huiswerker. Sy het ook telkens wanneer sy en haar gesin getrek het toestemming gevra of Paulina mag saamgaan.
Só het die twee vroue saam-saam die lewe aangepak.
“Ons het saam grootgeword, saam die lesse van die lewe geleer. Dit het nie saakgemaak hoe verskillend ons agtergronde was nie,” vertel Elize.
Paulina vertel in hulle jonger jare het die twee vroue elke dag die huiswerk saam aangepak. Dan het hulle in die middae gesit en hekel terwyl hulle radioverhale op Springbokradio geluister het.
Elize en Paulina het beslis ‘n hele paar sakke sout saam opgeëet deur die jare.
“My seun Rocco het in die swembad geval en byna verdrink toe hy nog baie klein was. Paulina het geweier om huis toe te gaan en sy het die hele nag lank langs Rocco se bed gesit. Ek sal nooit vergeet nie hoe sy vir my gesê het sy kan enige tyd slaap, maar vanaand pas sy vir Rocco op,” vertel Elize.
Hulle het ook saam probleme aangepak in die apartheidsjare.
Elize vertel hoe die polisie eendag by hulle huis ingebars het omdat hulle gehoor het dat ‘n swart vrou in die dorp woon, iets wat destyds nie sonder toestemming kon gebeur nie.
“Ons het lank reeds tevore met die no-dige owerhede gereël dat sy daar kon wees en hulle kon niks doen nie, maar ek het gevoel dis baie verkeerd.
“Solank ‘n mens vir mekaar wedersydse respek het en mekaar help is daar geen verskil nie en kan ‘n Afrikaner-vrou en ‘n Suid-Sotho-vrou vriende word, net soos ek en Paulina,” sê Elize.
Die vriendinne het ook baie by mekaar geleer. Elize sê sy het geduld en sagtheid by Paulina geleer en Paulina sê sy het alles wat sy weet van Elize geleer.
“Sy het my by my ma gevat en die dinge van die lewe geleer. Sy het my grootgemaak. Hulle foto’s is teen my muur, want hulle is my familie,” sê Paulina.
Sy vertel ook dat Paulina se aftrede vir die huisgesin ‘n baie hartseer storie was. “Ek kon net nie aan die idee gewoond raak dat sy nie meer daar was nie. My lewe het leeg gevoel, want my vriendin was nie meer daar nie.”
Paulina woon nou in haar eie huis wat die Coetzees vir haar gebou het. Wanneer sy verlang, laat weet sy haar jarelange vriendin dat sy kom kuier.
Deesdae pak die twee vroue die laaste hoofstukke van hulle lewens aan soos wat hulle dit begin het, in die sitkamer met hekelwerk op die skoot.



