Local NewsNews

Kenners se raad vir jonges na hartseer

Die nuus van drie leerders se dood het vandeesweek die stad se gemeenskap tot stilstand gedwing en die drie se maats verslae gelaat.

POLOKWANE – Die nuus van drie leerders se dood het vandeesweek die stad se gemeenskap tot stilstand gedwing en die drie se maats verslae gelaat.

Oral het inwoners gevra: hoe kan ‘n jongmens so ‘n tragedie verwerk?

Review het by opvoedkundige sielkundige Vincent Cloete en ds. Hannes Bezuidenhout van die N.G. Kerk Pietersburg-Noord gaan hoor hoe leerders die dood van hul maats kan verwerk.

Cloete het gesê die impak van ‘n maat se dood op leerders word beïnvloed deur die wyse waarop die maat dood is, die ouderdom van die oorledene en hoe goed die oorlewendes die oorledene geken het.

“Ongeag van die omstandighede van die dood word leerders, onderwysers en personeel van die skool op ‘n verskeidenheid maniere ge-raak,” het hy verduidelik.

Leerders kan op verskeie maniere geraak word:

• Akademiese prestasie neem af;

• Sosiale en emosionele uitdagings ontstaan;

• Versteurde slaap- en eetpatrone;

• Ontrekking van die samelewing, en

• gedragsveranderinge kom voor.

“Onmiddellike sowel as langtermynondersteuning moet aan leerders sowel as personeel van die skool gegee word. Dit kan akademiese vordering asook die sosiale, emosionele, gedrags en geestelike gesondheid bevorder,” het Cloete verduidelik.

Volgens Bezuidenhout kan die traumavrae wat ouers, gesinne, families, vriendekringe en die gemeenskap ervaar knaag na die selfmoord of ontydige nuus van ‘n jong kind wat in die fleur van hul lewe sterf.

“Die vrae word uitgebrei met ander vrae. Ons wil weet waarom het my kind of vriendin dit gedoen. Waarom moes die dood so skielik ‘n gesonde seun en dogter in hulle fleur van hulle lewe wegneem? Waarom het ons die waarskuwingtekens misgekyk?

“Wie het besluit dat ons liefde, eindlose moed-inpra-tery en aanpassings niks beteken het nie?”

Bezuidenhout het gesê die dood van ‘n kind ruk die gemeenskap uitmekaar en die oorlewendes sukkel dikwels met skuldgevoelens. Hy het verduidelik dat mense soms die las self wil dra, maar dat dit ‘n las is wat nie alleen gedra kan word nie.

“Wees bewus van jou gevoelens en eerlik met jouself dat jy nie iets kon doen om jou maat se dood te keer nie. Vermy wraakgevoelens en pasop om jouself nie te wil straf nie.”

Hy het ook gesê dat leerders troos kan vind by God wanneer hulle ‘n maat aan die dood moes afstaan.

“Dit is belangrik om te weet dat God die persoon wat oorlede is aan Sy boesem ontvang.”

Bezuidenhout het gewaarsku teen menslike verdedigingsmeganismes.

“Moenie die trauma en seer alleen probeer dra nie. Klop by iemand aan vir bystand. Moenie dat vorige hartelose ervarings jou keer om hulp te vra nie,” was sy raad aan jongmense.

“Die pad na emosionele genesing is ‘n roete waarlangs ons nie sonder mekaar kan reis nie. Ons het mekaar nodig om weer saam te kan groei.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button