Motorongeluk eis Triegies se liewe, borrelende Bontle Makgoba (8)
Laerskool Louis Trichardt moes vandeesweek afskeid neem van 'n gewilde en geliefde gr. 1-leerder nadat sy op slag dood is in 'n motorongeluk.
MAKHADO – Laerskool Louis Trichardt moes vandeesweek afskeid neem van ‘n gewilde en geliefde gr. 1-leerder nadat sy op slag dood is in ‘n motorongeluk.
Volgens provinsiale polisiewoordvoerder, Kol Ronél Otto, het Selaelo Makgoba en haar twee dogters, Bontle (8) en Mankati (3), Sondag te-ruggekeer na Makhado na ‘n naweek by vriende in Polokwane.
Otto sê die polisie vermoed dat Silaelo beheer oor die voertuig verloor het en uiteindelik teen ‘n boom gebots het net buite Makhado.
“Die bestuurder van die voertuig is ernstig beseer in die ongeluk en die agtjarige dogtertjie is op slag dood. Die driejarige het ongedeerd daarvan afgekom,” sê Otto.
Elsje Linde, onderwyser van Laerskool Louis Trichardt, sê Bontle se dood is ‘n groot skok vir die skool. “Bontle was ‘n regte treat, daar is geen ander woord om haar mee op te som nie. Sy het ons altyd laat lag met haar pittige sêgoed. Sy was net soos haar ma, met dieselfde borrelende persoonlikheid.
“Sy was ook ‘n slim kind wat baie vinnig geleer het.” Volgens Linde is dit die eerste keer in 10 jaar wat die laerskool ‘n leerder aan die dood afstaan.
“Ons innige simpatie aan Bontle se famile en ons wens vir Silaelo ‘n spoedige herstel toe,” sê sy.
Linde vertel ook dat sy Dinsdag met Silaelo gepraat het waar sy tans aansterk in die Mediclinic Limpopo in Polokwane.
Bontle se begrafnisreëlings was teen druktyd nog nie beskikbaar nie.



