Die kleur van hoop is groen
'n Inwoner van die stad het besluit om 'n projek te loods om bewusmaking te skep van jong mense wat in motor- en motorfietsongelukke betrokke is en selfs hul lewens só verloor.
POLOKWANE – ‘n Inwoner van die stad het besluit om ‘n projek te loods om bewusmaking te skep van jong mense wat in motor- en motorfietsongelukke betrokke is en selfs hul lewens só verloor.
Die geld wat ingesamel word deur hierdie projek, sal aan die families van hierdie jongmense geskenk word.
Raymond Bronkhorst se projek is in die vorm van ‘n groen strikkie-projek en elke groen strikkie kos R10.
Bronkhorst sê hy was in 2005 in ‘n ongeluk en dus het hy baie begrip vir en simpatie met die jongmense en families.
“Dit is tyd uit jou lewe wat jy verloor as jy in ‘n hospitaal moet gaan lê; om nie eers te praat van wanneer iemand sy lewe verloor nie,” sê Bronkhorst.
Die groen strikkies is by Invitation Station in Savannah Mall asook by die Hoër Tegniese Skool Tom Naudé beskikbaar.
“Die groen strikkie stel die meegevoel en simpatie voor wat die inwoners van die stad het met die gesinne wat kinders aan die dood moes afstaan,” verduidelik Bronkhorst.
Saam met die die Hoër Tegniese Skool Tom Naudé beoog die span om R3 000 in te samel en aan geaffekteerde gesinne te skenk.
Raymond beoog ook om geld in te samel vir die aankoop van glimbaadjies wat aan leerders wat motorfietse ry gegee kan word om te help met die voorkoming van ongelukke waar motoriste beweer dat hulle nie die leerders gesien het.
Hy verduidelik dat hy weet dat die geld niemand wat gesterf het sal terugbring nie, maar sê dit is sy passie om as ‘n gewone inwoner van die stad iets te probeer doen.
‘n Opkomende sanger van Mokopane, Jaco Minnaar, het ook sy betrokkenheid by die projek aangekondig en gaan ter insameling van geld vir die glimbaadjie-projek ‘n optrede by Tom Naudé aanbied.
Minnaar, wat reeds by verskillende feeste en geleenthede opgetree het, glo dat sy berokenheid in die projek sal help om belangstelling te prikkel van die stad se musiekliefhebbers.
Die vertoning sal op Saterdag 30 Augustus om 18:00 in die skoolsaal plaasvind.
Kaartjies beloop R50 per persoon en kinders onder die ouderdom van 18 kry gratis toegang.
Daar sal ook verversings en ‘n kontant kroeg beskikbaar wees. Kaartjies is ook by die deure te koop.
Vir meer inligting oor die strikkies en kaarjies, skakel Raymond by 079 034 2312.



