Inwoners en personeel een groot familie
Die tehuis het begin met net vier mense en vandag huis-ves Jo-Ann Rusoord in Andrewsstraat 18 bejaardes.
POLOKWANE – Die tehuis het begin met net vier mense en vandag huis-ves Jo-Ann Rusoord in Andrewsstraat 18 bejaardes.
Anne-Marie Massyn die eienaar van die tehuis het in 2002 dié hawe geopen toe haar skoonma, wat toe in haar 80’s was, haar heup gebreek het en Massyn na haar moes omsien.
“Ek het gedink ek wil nie alleen na my skoonma kyk nie en het toe besluit om die tehuis te open. Ek het begin met vier bejaarde vroue en het personeel aangestel om te help met die versorging. Bejaardes verg dag en nag aandag en daarom werk ons personeel in skofte.
“Oom Neels Grobler, hy is nou oorlede, was die eerste man wat by Jo-Ann kom bly het. Sy kinders het my gesoebat om hom in te neem, nadat sy vrou oorlede is. Hy was te oud en kon nie op sy eie bly nie. Hy was die eerste amptelike manlike inwoner,” verduidelik Massyn.
Die naam Jo-Ann is Massyn en haar man se name gekombineerd.
“My man se naam is Johan, en ons het besluit om dele van elkeen se naam te vat om by Jo-Ann Rusoord uit te kom,” sê Massyn.
Daar is verskillende daaglikse aktiwiteite vir die bejaardes om besig te bly, buiten vir tannie Anna Els se sangitems en die geselsies onder mekaar.
“Ons het grootdruk biblioteekboeke wat hulle lees, die tannies brei, ander kyk TV en party dae sit hulle in die son en lees koerant en tydskrifte.
“Vir my is elkeen van die inwoners spesiaal en ek is lief vir hulle asof hulle my eie familie is. Hulle is ‘n klein groepie en dit maak dit maklik vir ons om individuele aandag aan hulle te gee. Ons weet dus wanneer hulle siek of hartseer is,” sê Massyn.
Die bejaardes se kinders kuier gereeld en party dae kom haal hulle kinders hulle om by hulle te kuier vir ‘n paar dae, sê sy.
“Die grootste vreugde van my werk is wanneer ek in die oggend vir hulle môre sê en hulle bly is om my te sien. Die enigste uitdaging van my werk is wanneer een van ons mense sterwe. Dit is moeilik om afskeid te neem, omdat ons so geheg is aan mekaar. Dit laat ‘n groot leemte in die hart, maar ook die plekkie by die tehuis. Elke persoon het ‘n unieke karakter by die tehuis en wanneer hy of sy nie meer daar is nie, verlang ons baie,” sê Massyn.
Massyn pleit dat mense meer aandag en liefde aan bejaardes moet gee, want dit gee hulle meer mens-waardigheid.
Die tehuis is nie afhanklik van skenkings nie, maar Massyn sê donasies is welkom.
“My droom is dat ons eendag ‘n bussie sal hê, want elke keer wat ons op ‘n uitstappie wil gaan moet ons by iemand een leen,” sê sy.



