Pieter herstel goed na die ongeluk wat Zander eis
Pieter Smith, pa van Zander, herstel goed aan na 'n operasie van vyf ure op Dinsdag, 19 Augustus.
POLOKWANE – Pieter Smith, pa van Zander, herstel goed aan na ‘n operasie van vyf ure op Dinsdag, 19 Augustus.
Zander se sweetpakbaadjie het op ‘n onverklaarbare wyse in die staalstaaf van ‘n windpompmeganisme verstrengel geraak op Sondag, 17 Augustus. Hy kon nie loskom nie en is teenaan die staaf opgetrek.
Pieter wou hom help, maar die staalstaaf het sy linkerarm deurboor. Zander is op die toneel by die windpomp dood. Nood-dienswerkers moes Pieter bevry.
Daar was sprake dat Pieter sy arm sou verloor, maar na ‘n operasie het die dokters besluit om nie die arm te amputeer nie. Pieter gaan egter rekonstruktiewe sjirurgie moet ondergaan.
“Hy het net gevoel in twee van sy vingers,” vertel Pieter se vrou, Riana.
“Pieter lê tans in ‘n gewone saal, maar die besoekure word baie streng toegepas.”
Tydens die operasie wat Pieter verlede week ondergaan het, is dooie weefsel uit die arm gesny. Volgens Riana het die operasie die area tussen sy elmboog en hand geteiken. Om bloedvloei te verbeter is ‘n aar uit sy been in sy arm oorgeplant.
“Pieter het baie seer. Die dokters het gesê hy moet vir ses weke in die hospitaal bly, maar ons hoop dat dit minder sal wees.”
Daar was Dinsdag ‘n roudiens vir Zander gehou by die Agapé-Kerk in Polokwane.



