CrimeNewsUpdate

Plaas-aanval: vrou steeds in hospitaal

Sophia Botha, wat verlede Donderdagaand wreedaardig met 'n panga aangeval is op 'n plaas naby Mara in die Vivo-omgewing, word steeds in die Mediclinic Limpopo behandel.

POLOKWANE – Sophia Botha, wat verlede Donderdagaand wreedaardig met ‘n panga aangeval is op ‘n plaas naby Mara in die Vivo-omgewing, word steeds in die Mediclinic Limpopo behandel.

Niemand is nog in hegtenis geneem in verband met die voorval nie.

Sophia het Vrydag ‘n operasie ondergaan wat meer as ses ure geduur het om kop- en armwonde te heg wat sy tydens die aanval opgedoen het. Haar regterduim is afgekap en haar linkerhand is ook ernstig beseer tydens die aanval.

Sy is ‘n verteenwoordiger van ‘n landbou-chemikalieë maatskappy en werk in die Vivo-omgewing. Sy huur ‘n huis op die plaas waar sy aangeval is.

Die verdagte waarna gesoek word is na bewering ‘n Zimbabwiër wat op die plaas waar Botha woon, gewerk het. Hy is verlede Woensdag die plaas verbied deur die eienaar nadat hy glo geweier het om te werk.

Volgens die polisiewoordvoerder van die Mara-polisiestasie, konst. Thabelo Rambuda, het die aanvaller Sophia ingewag in haar huis.

Hy het glo geld geëis en haar met ‘n panga aangeval en ernstig beseer.

Die aanvaller wou met haar motor vlug nadat hy ‘n groot hoeveelheid huishoudelike ware, onder andere ‘n televisiestel, daarin gelaai het.

Volgens Sophia se seun, Jan Botha, kon die aanvaller die motor nie in trurat kry nie, weens ‘n meganisme waar ‘n knoppie eers ingedruk moet word voor die motor in trurat gesit kan word.

‘n Huiswerker wat daar naby woon het onraad gemerk toe sy die voertuig gehoor het en het na die plaas-eienaar se huis gegaan om hulp te ontbied.

Die aanvaller het te voet gevlug en Sophia is met ‘n ambulans na Mediclinic Limpopo geneem.

Kol. Ronel Otto, provinsiale woordvoerder van die polisie, het gister (Woensdag) bevestig dat geen arres-tasies nog uitgevoer is nie en dat die polisie nog na die verdagte soek.

Jan sê sy ma sterk tans goed aan.

“Dis maar ‘n pynlike en stadige storie. Sy sal na verwagting later die week ontslaan word, maar sal nog traumaberading moet ontvang. Dit was ‘n baie traumatiese gebeurtenis.”

“Dit was ‘n daad wat met voorbedagte rade beplan is, ” het hy gesê.

“Die verdagte het iewers die toue, panga en koevoet gekry wat tydens die voorval gebruik is.”

“My ma het nie sulke goed by haar huis nie.”

Sophia sal, sodra sy ontslaan word, tydelik by haar dogter in die stad woon, omdat sy nog verdere mediese behandeling nodig sal hê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button