Edwel fokus op bewusmaking hier
Lede van die Edwel-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) spog reeds met talle suksesverhale waar hulle deur hul vinnige optrede nie net booswigte agter die tralies laat beland het nie, maar ook misdaad suksesvol voorkom het.
POLOKWANE – Lede van die Edwel-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) spog reeds met talle suksesverhale waar hulle deur hul vinnige optrede nie net booswigte agter die tralies laat beland het nie, maar ook misdaad suksesvol voorkom het.
In samewerking met die polisie en die munisipaliteit, het hierdie GPF ook skoonmaak-operasies in die velde en parke van Eduanpark en Welgelegen geloods om seker te maak dat kriminele nie daar wegkruip nie.
Volgens die Edwel-bestuur is hul een groot uitdaging steeds om bewusmaking te skep onder die publiek oor die werk wat hulle lede doen en waarom dit belangrik is om by hierdie forum aan te sluit.
Daarom het Edwel in Augustus ‘n bewusmakingsveldtog by Savannah Mall van stapel gestuur. Tydens dié veldtog het die publiek geleentheid gekry om te sien wat tydens inbrake gebeur het met behulp van ‘n televisieskerm wat beeldmateriaal van verskillende gevalle wat op kamera vasgelê is uitgesaai het. Die GPF het ook inligting verskaf oor vuurwapens en ander wapens wat op misdaadtonele gevind is en ook ‘n demonstrasie aangebied om te wys hoe polisie- en snuffelhonde gebruik word om booswigte uit te snuffel en vas te vat.
Edwel-lid Peet Hartman het verduidelik dat dit baie belangrik is dat die gemeenskap weet hoeveel misdaad in hul opvangsgebied plaasvind.
“Dis iets wat met enigeen kan gebeur en mense moet ingeligte besluite kan neem. Een van die beste besluite wat jy kan neem vir jou veiligheid is om by jou GPF aan te sluit,” het hy verduidelik.
Nie-lede van die GPF wat in die buurt woon en graag by die GPF wou aansluit het ook die geleentheid gekry om aan te sluit.
Vir meer inligting oor Edwel-GPF, stuur ‘n e-pos na itstopshere.edwel@gmail.com.



