Local NewsNews

Vaarwel aan Oom Willie

'n Man wie se raad altyd hoog aangeskrewe was.

POLOKWANE – ‘n Man wie se raad altyd hoog aangeskrewe was.

Só beskryf Willie Roux (80) se jarelange vriend, Jannie van Waveren, hom.

Willie is verlede Vrydag oorlede. Volgens sy vrou, Sarah, is hy 20 jaar gelede vir die eerste keer met kanker gediagnoseer.

“Die kanker is behandel en het weer teruggekom. Verlede jaar in Oktober is ‘n melanoom uit sy arm gesny en in Maart vanjaar was daar weer a melanoom wat uiteindelik na sy kliere versprei het.”

Sarah vertel dat Willie, wat in die Bosveld gebore is, baie lief was vir die natuur. “Sy boerdery was sy stokperdjie wat later vir hom baie belangrik geword het. Hy het met wild asook groente geboer. Ook het hy gereeld jagters ontvang en trakteer.”

Willie het vir ‘n paar jaar in die poswese gewerk voor hy in 1958 by Sanlam as versekeringsadviseer begin werk het.

Hier het hy van die grootste toekennings in die versekeringsbedryf ontvang. Ook was hy betrokke by sy dogter en skoonseun se eiendomsagentskap, Retief Eiendomme.

Paul Venter, wat ook ‘n jarelange vriend van Willie was, onthou dat Willie gereeld met iets van alles gewoeker het, en dat hy ‘n baie joviale mens was met vele fasette.

“Hy kon leiding neem en was iemand wat altyd sy kant gebring het. Hy was ‘n goeie vriend waarmee mens lekker kon saamkuier. Ons het dikwels saam gaan visvang in Mosambiek en hy was lief vir die buitelewe. Hy was ‘n steunpilaar in die gemeenskap,” onthou hy.

“Ek onthou ons was betrokke by ‘n vereniging wat elke laaste Dinsdag van die maand vergader het. Jannie het elke keer vir ons die tafelgebed gedoen. Hy het só gebid dat die gewone mens kon verstaan wat hy sê. Hy het nie hoë woorde gebruik nie. Hy kon baie sê deur net ‘n paar woorde te gebruik.”

Jannie onthou Willie ook as iemand wat nooit ‘n verjaardag vergeet het nie. “Hy het ‘n klein boekie gehad waarin hy alles wat belangrik was geskryf het. Ek het nie verjaar sonder dat hy my nie gebel het nie. Hy het altyd ‘n verjaardag onthou.”

Willie laat sy vrou, Sarah, vier kinders en nege kleinkinders agter. Sy roudiens vind more (Vrydag) om 11:00 vanuit die N.G. Kerk Pietersburg-Noord in Polokwane plaas.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button