Local NewsNews

Dapper brandbestryders red stad se skietbaan

Vier mans, by tye gehelp deur die stad se nooddienste, het Woensdagmiddag en -aand gekeer dat die restaurant en ander fasiliteite van die Polokwane Skietbaan in 'n brand verwoes word.

POLOKWANE – Vier mans, by tye gehelp deur die stad se nooddienste, het Woensdagmiddag en -aand gekeer dat die restaurant en ander fasiliteite van die Polokwane Skietbaan in ‘n brand verwoes word.

‘n Brand wat vanaf die oostekant van die skietbaan van die munisipale afvalterrein se kant gewoed het, het na die skietbaan se terrein versprei.

Die bestuurder van die restaurant by die skietbaan, Piet Oliemans, restaurantsjef Mike Tinyane en ‘n kliënt, Shayne Jansen van Vuuren het met ‘n tuinslang die gras rondom die restaurant gebou begin natspuit en die naderende vlamme begin doodslaan. Dit was net na 16:30. Die plaaslike brandweer het kom help, maar moes gou vertrek nadat die vuur die Polokwane Wildreservaat bedreig het. Die vlamme het wel oor die pad gespring, maar slegs ‘n gedeelte aan die kant van die pad langs die wildreservaat het gebrand voor die vlamme daar geblus is. Vragmotors van die nabygeleë Polokwane Surfacing moes inderhaas na ‘n veiliger gebied verskuif word toe die vuur ook daar teenaan die terrein gewoed het.

Op die skietbaan het ‘n paar mense nog geoefen.

Talle mense het uit nuuskierigheid kom kyk wat aangaan en dan weer weggery.

Das Villoen is ‘n inwoner wat ingespring en help vure doodslaan het.

“Dit was baie gelukkig dat die lang gras na-aan die geboue ‘n ruk gelede korter gesny is, anders sou ons die vuur nie kon keer nie,” sê Oliemans.”Ek moes baie baklei om dit gereël te kry.” Die grond waarop die skietbaan is, behoort aan die munisipaliteit, maar die verbeterings is deur die Bosveld Jagtersvereniging aangebring.

Oliemans vertel dat hy die brand vroëer die middag gesien het en dat dit later weer opgevlam het. Hy het 10111 geskakel vanwaar die brandweer ontbied is.

“Ek het die brand dopgehou en later gesien hier kom moeilikheid. Ons het toe maar met die tuinslang die gras ter voorbereiding begin natgooi en die vlamme begin doodslaan. Ons sjef het ook kom help, waarvoor ons baie dankbaar is, ” sê Oliemans.

Teen 19:00 het Neels Cronjé van die Polokwane-brandweer weer daar aangekom en die moeë manne gehelp om die laaste van die vlamme, wat ‘n klein gebou by die hek bedreig het, te help blus.

‘n Ander brandweervoertuig het die laaste vlamme kom blus wat nog teen die pad gewoed het verder oos, voordat dit kon oorspring na eiendomme noord van die pad en nader na die stad se kant.

Cronjé het gesê dat hy reeds sedert 04:00 besig was om brande te blus.

Ook Villoen het hom uitgelaat oor die mense wat kom kyk het en dan net omdraai of bloot verder ry, sonder om hulp aan te bied.

Die brand is op plekke sowat vier meter vanaf die gebou onder beheer gebring.

Brande het teen 08:00 Woensdagaand nog gebrand en die afvalterrein het teen gister (Maandag) nog gesmeul.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button