Dié kroon kry voete in ‘n bos
Deernis, vriendelikheid, integriteit en eerlikheid definieer 'n persoon en, deur saam te werk, kan mens veel meer verrig as deur alleen te werk
POLOKWANE – Deernis, vriendelikheid, integriteit en eerlikheid definieer ‘n persoon en, deur saam te werk, kan mens veel meer verrig as deur alleen te werk.
Dit was die boodskap van Curro Heuwelkruin Laerskool se konsert wat op 8 tot 11 September plaasgevind het.
Die konsert se naam was Die Koning se Kroon is Gesteel! en het afgespeel in die bos waar karakters soos Wonderwoud Bosdiere, Rock-a-lamb-babies, Vaak Klasies en Maanligfeëtjies woon.
Deur die loop van die konsert ontmoet die gehoor vir Kaptein Humphrey wat baie graag die skuldige partye wil vastrek. Ook is daar Cindy-Ella en haar pratende metgesel, Wolfie, wat op soek is na die paleis waar Koning Kroon, wat sy kroon verloor het, en sy vrou, Koninging Kroon, woon.
Later word die gehoor wysgemaak dat Cindy-Ella, Wolfie, Goue Klokkie, Red en Robbie de Hoed die kroon gesteel het. Hulle word gevange geneem en as dit nie vir Reporter, ‘n bosvoëltjie was nie, het die waarheid oor wie die kroon gesteel het, Kaptein Humfrey en Advokaat Repe Steeltjie, nooit uitgekom nie.
Karaktereenskappe soos opregtheid, medeleye en deernis is dwarsdeur die produksie beklemtoon.
“Dit was ‘n baie goeie optrede, regtig die moeite werd,” het Anna-Marié Schoeman, een van die gaste, vertel.



