POLOKWANE – Huiseienaars wat ‘n swembad wil laat bou word gewaarsku om nie te val vir goedkoop aanbiedinge van mense wat voorgee hulle is swembadbouers nie.
Volgens huiseienaars wat onder hierdie slenter deurgeloop het, is daar mense wat voorgee dat hulle swembadbouers is en ‘n groot deposito as voorskot vra om kastig materiale te koop en dan te begin met die werk. Maar hulle verdwyn gou.
Al waarmee die huis-eienaar sit is ‘n gat in die grond waar die swembad gebou sou word. ‘n Vrou van Faunapark vertel dat sy in Desember verlede jaar gereageer het op ‘n advertensie van ‘n maatskappy wat ‘n spesiale aanbod in ‘n plaaslike koerant geadverteer het vir die bou van ‘n swembad en ‘n lapa.
“Die aanbod was baie laag vergelykend met kwotasies wat ons voorheen gekry het. Ons het ‘n R32 500 deposito betaal en die man het drie werkers gebring wat vir drie dae lank aan die gat gegrawe het.
“Hy het nog R1 000 gevra vir materiale. Ons sou dan, na die voltooing van die swembad, nog R15 000 moes betaal.
“Die kontrakteur en sy handlanger was drie dae lank besig om te grawe en daarna was dit die laaste sien van die man en sy handlangers.
“Ons spaargeld was ook daarmee heen. Die man se telefoon het onbeantwoord gebly en na ‘n ruk het die nommer nie meer bestaan nie. Die papierwerk en die gat in die grond was al wat oorgebly het van ons gesin se droom.
“Die polisie wou nie ‘n saak oopmaak nie. Hulle het net gesê ons het die geld vrywillig vir die man gegee en die man het dit nie gesteel nie,” vertel sy.
Peet Joubert ‘n swembadkenner van van die stad wat al sedert 1992 in die bedryf is, sê die werk wat gedoen is om die gat te grawe waar die swembad gebou sou word, is skaars R2 000 werd.
Die vrou vertel dat sy verlede week ‘n soortgelyke advertensie in ‘n koerant gesien het en snuf in die neus gekry het.
“Die naam van die firma was nie dieselfde nie, die telefoonnommer ook nie, maar die bewoording van die spesiale aanbieding was soortgelyk.
“Ek het my swaer gevra om te bel en dit was defnitief dieselfde man, ek het sy stem herken. Hy het op dieselfde manier te werk gegaan en wou ook ‘n groot bedrag deposito vir materiale hê.
“Hy het ook gesê my swaer moes gou besluit of hy die aanbod wou neem of nie, aangesien die spesiale aanbod net vir ‘n spesifieke tyd geldig sou wees.”
Review het die adverteerder geskakel oor die spesiale aanbod in die koerant.
Hy wou nie veel sê oor die deposito nie en wou uitkom na die perseel waar die swembad gebou moes word.
Die man het op navraag bevestig dat hy van Polokwane is. In ‘n daaropvolgende oproep van Review het ons gevra om voorbeelde van die swembaddens te sien op die sogenaamde kontrakteur se perseel.
Die man het toe beweer hy is van Mokopane en die oproep beëindig. Verdere oproepe is geïgnoreer.
Volgens Joubert sal die standaardprys van ‘n kleiner swembad (6m x 4m) en lapa (4m x4m) soos wat deur die adverteerder aangebied word vir R44 000, in der waarheid R74 000 kos.
Die heel grootste swembad in die advertensie (10m x 4m) en lapa (10m x 6m) sal R162 000 kos teenoor die geadverteerde R124 000.
“Die Nasionale Spa- en Swembadinstituut van Suid-Afrika is die waghond van die bedryf in Suid-Afrika reguleer. Slegs besighede wat langer as twee jaar bestaan en onder dieselfde naam ‘n swembadbesigheid bedryf het kan by hulle registreer.
“Besighede word ook aan streng finansiële riglyne getoets en geen maatskappy wat ‘n vorige veroordeling teen hulle het kan aansluit by die instituut nie. Besighede moet ook aan ‘n streng etiese kode voldoen.
“Voornemende swembadeienaars kan ‘n lys van maatskappye wat by die instituut geregistreer is, by die instituut kry,” het Joubert verduidelik.
Volgens Polokwane polisiewoordvoerder, AO Lesiba Ramoshaba, is daar beslis ‘n element van misdaad betrokke by hierdie skema en het die vrou wat nie ‘n saak by die polisie kon oopmaak nie aangeraai om met ‘n speurder van die misdaadeenheid te praat oor hierdie voorval. Die misdaadeenheid se telefoonnommer is (015) 290 6598.



