POLOKWANE – Die leerders van Laerskool Pietersburg-Oos sal binnekort baie veiliger wees wanneer hulle Bendorrylaan voor die skool oorsteek, danksy ‘n verkeerslig wat daar opgerig word.
Die skool en die Polokwane Munisipaliteit werk saam aan hierdie projek.
Volgens Henry de Nys-schen, onderwyser in beheer van Oosskool se geboue, terrein en veiligheid is, sal die nuwe verkeersligte die ver-keersvloei tydens spitstyd, wanneer ouers hulle kinders op- en aflaai by die skool, verbeter. Hy sê ouers het die skool gekontak en gesê hulle vrees vir hulle kinders se veiligheid wanneer die leerders hierdie besige straat moet oorsteek. Die skool het ook telkens probleme ondervind met ouers wat ander ouers vasparkeer omdat hulle nie wil hê dat hulle kinders die straat moet oorsteek nie en eerder aan die skool se kant van die straat stop.
“Nou kan ouers rustig aan die ander kant van die straat wag in die wete dat hulle kinders die straat veilig by die verkeerslig kan oorsteek,” sê De Nysschen.
Hy stel motoriste ook gerus dat die verkeer in Bendorrylaan nie baie ontwrig sal word nie, omdat die verkeerslig só gestel word dat dit slegs na rooi sal oorslaan wanneer ‘n verkeersbeampte aan diens by die verkeerslig die knoppie druk.
Hy verduidelik dat skolierpatrollies nie in die verlede suksesvol was nie, omdat die straat so besig is.
Volgens munispale woordvoerder, Tidimalo Chuene, is die verkeersligte byna gereed om gebruik te word.
“Ons wag net vir ‘n paar parte wat ons bestel het en dan sal die verkeersligte aangekakel word,” sê sy.



