Local NewsNews

Vrou verloor 48kg oor tydperk van 7 maande

Jeanette Keyter se lewe het drasties verander nadat sy 48kg en 244cm verloor het oor 'n tydperk van sewe maande.

POLOKWANE – Jeanette Keyter se lewe het drasties verander nadat sy 48kg en 244cm verloor het oor ‘n tydperk van sewe maande.

Keyter het aan Review vertel dat sy haar lewe lank met haar gewig gesukkel het, tot sy aangesluit het by TLC Internasionaal in Mei vanjaar.

“My hele lewe het verander. Ek voel goed, positief en het weer lus vir die lewe. Voor ek aangesluit het by TLC Internasionaal was ek baie depressief en het nie lus gehad vir die lewe nie. Maar nie meer nie. Ek is ‘n ander mens en het baie meer selfvertroue,” sê Keyter.

Die 38-jarige ma van ‘n 11-jarige seun sê in die verlede het sy altyd moeg gevoel en was baie onaktief, maar, sedert sy gewig verloor het, het dit verander.

“Ek doen daagliks ligte oefeninge vir 30 minute lank en ek speel buite met my seun. Ek is so dankbaar teen-oor my Here, my ma, Cecily Jacobs, my TLC afrigter, Martzi du Toit, en my dokter, dr. Veronica Stopforth, want sonder hulle sou ek nie hierdie sukses behaal het nie. Ek moet bieg, die eerste twee weke nadat ek met die TLC mediese eetplan begin het, was moeilik. Ek het verskriklik lus gehad vir ongesonde kossoorte, maar Martzi was altyd daar om my moed in te praat. Ek het later die woorde ‘byt vas, druk deur, jy kan dit doen’ begin haat,” vertel Keyter.

Haar gunsteling kos was vroeër warm skyfies, hamburgers, pizza, pasteie, koek en suurlemoen tert.

“Ek kry nie eens meer lus vir dié kossoorte nie. Gesonde eetgewoontes raak ‘n leefstyl en wanneer ‘n mens se sisteem gewoond raak aan gesond eet, raak mens siek wanneer jy die verkeerde kosse eet,” verduidelik Keyter.

In Keyter se eerste week op die dieet het sy 5,5kg en 50cm verloor, maar daar was tye waarin sy niks verloor het nie.

“Die tye wanneer ek niks verloor het nie, was moeilik vir my want ek wil graag elke keer wat ek op die skaal klim verandering sien. Maar ek moet eerlik wees, die tye wat ek niks verloor het nie, was tye wat ek afgewyk het van my TLC-eetplan. Die gedagte dat ek my kind gaan sien grootword, nie diabetes het nie en gesond lewe, motiveer my om aan te hou met die eetplan en om nie af te wyk nie”, sê Keyter.

Du Toit sê toe sy Keyter ontmoet was sy ‘n stukkende mens, ‘n bondel depressie, mismoedig en baie hartseer. “Ek onthou die maatband het nie om haar heupe gegaan nie en ons moes haar mate las-las neem, maar nie meer nie. Dis wonderlik om te sien hoe Jeanette se lewe verander het. Sy is nie meer daardie depresiewe vrou wat ek ontmoet het nie. Sy is gelukkig en sy het ‘n nuwe lus vir die lewe.

“Dit is vir my ‘n voorreg en eer om die pad met haar te stap en te sien hoe haar persoonlikheid verander van negatief na positief,” sê Du Toit.

Keyter se doelgewig is 80kg wat sy teen einde Desember wil bereik.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button