Local NewsNews

Gordon verkies tot Blou Bulle-direksie

Gordon Ferns, een van Polokwane se topsakemanne, is op 27 November tot die Blou Bulle Rugby-unie (BBRU) se direksie verkies.

POLOKWANE – Gordon Ferns, een van Polokwane se topsakemanne, is op 27 November tot die Blou Bulle Rugby-unie (BBRU) se direksie verkies.

Ferns, wat in Polokwane gebore is en aan die Hoër Landbouskool Kushke gematrikuleer het, is verkies tot lid van die direksie nadat Gert Wessels as president van dié rugby-unie aangewys is en sy plek op die direksie oopgelaat het.

Ferns is genomineer as potensiële direksielid en is tydens die BBRU se algemene jaarvergadering as nuwe direksielid verkies. Hy sal vir ‘n termyn van vier jaar dien.

Op die ouderdom van 36 jaar sluit Ferns dus aan by ‘n indrukwekkende groep mense wat hulle plek in die rugbywêreld vierkantig volstaan, soos Boet Fick en Barend van Graan wat deel van nasionale en provinsiale rugbyunies se bestuursraamwerk vorm.

Ferns is tans die handelaarshoof van Limpopo Toyota.

“Die direkteure kyk na die besigheidsaspekte van rugby wat strek van Super 15-vlak regdeur tot op klubrugbyvlak. Ons as direksie neem dus die besigheidsbesluite. Dit is ‘n groot taak, maar ook ‘n groot eer om by georganiseerde rugby op hierdie vlak betrokke te raak,” het Ferns aan Review verduidelik.

“Ek sien baie uit daarna om my deel te doen. Dit is vir my ‘n heel nuwe uitdaging, maar besigheid bly maar besigheid. Ek sal natuurlik in Polokwane bly en dit is net nog ‘n bietjie hooi op my vurk,” het hy beskeie verduidelik.

“Ek sien ook uit daarna om die mense betrokke by die Blou Bulle te ontmoet en dink dit kan baie voordelig wees vir Polo-kwane en rugby in Limpopo.”

Na skool het Ferns diereproduksie studeer aan die voormalige Pretoria Tegnikon, nou bekend as die Tshwane Universiteit van Tegnologie. Hy het in 2001 besluit om die besigheidswêreld te betree en by Limpopo Toyota as verkoopsman begin werk.

Hy het sedertdien ‘n indrukwekkende besigheidsprofiel opgebou en word vandag as een van die beste sakemanne in die provinsie beskou.

Hy vertel hoe hy van jongs af rugby as ‘n sport geniet het en ook onder andere vir die Limpopo Polisie-rugbyklub op die veld gedraf het as vleuel. Hy het in 2005 ophou rugby speel en het besluit om eerder te fokus op sy loopbaan as verkoopsbestuurder.

Ferns het egter deur die jare steeds betrokke gebly in rugbykringe en het, veral deur borgskappe, steeds ‘n bydrae gelewer tot die sport.

Charles van Wyk, adjunkpresident van die Limpopo Blou Bulle Rugby-unie, is die man wat Ferns genomineer het om op die BBRU se direksie te dien.

“Ek ken Gordon al sedert 2002 toe hy by rugby betokke was. Hy het vir die Patriotte en Kargo Pietersburg-rugbyklub gespeel asook vir die Limpopo Polisie-rugbyklub. Hy het later ook vir die Blou Bulle se plattelandse en amateurrugbyspanne uitgedraf,” het Van Wyk vertel.

“Gordon kom uit ‘n sportfamilie en is ‘n toegewyde sportman. Ek dink hy is iemand wat ‘n groot aanwins is vir Limpopo-rugby en ook nou vir die Blou Bulle Rugby-unie wat besigheid aanbetref. Ek weet hy sal dieselfde kenmerkende toegewydheid toepas wat hy in alles wat hy aanpak doen,” het Van Wyk gesê.

“Ek glo hy sal ‘n goeie bydrae lewer tot die BBRU. Gordon het ‘n goeie brein vir besigheid en is ook jonk en dinamies.”

Ferns het elke persoon wat hom tydens die stemming ondersteun het bedank.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button