PIENKVOETJIES: Miché verras haar ouers
Miché Swanevelder is Michelle de Klerk en Brendon Swanevelder se tweede kind en enigste dogtertjie.
POLOKWANE – Miché Swanevelder is Michelle de Klerk en Brendon Swanevelder se tweede kind en enigste dogtertjie.
“Die naam was nog altyd vir my mooi en toe het ons dit eendag op ‘n koeldrankblikkie gesien en ons het besluit dit is wat ons haar gaan noem,” vertel Michelle.
Miché staar ons grootoog aan en elke kort-kort is daar ‘n glimlag op haar gesig. Haar ouboet, Eathan, speel buite saam met sy ouma. Eathan is nou 18 maande oud en Michelle vertel dat hy aan die begin baie jaloers op Miché was.
“Hy was vreeslik jaloers en wou haar slaan, maar deesdae deel hy gereeld soentjies uit.”
Michelle en Brendon is reeds vier jaar saam. Brendon vertel dat hy baie help met Eathan, sodat Michelle meer tyd het vir Miché.
Brendon is baie gemaklik om Miché vas te hou en met haar te speel. Voedingstyd is ook nie vir hom ‘n probleem nie.
“Sy begin nou tande kry, so die doeke raak nou meer,” vertel Michelle.
Michelle vertel dat al is sy eintlik ‘n “seuntjie-mamma”, is sy baie opgewonde oor haar dogtertjie. Brendon wou nog altyd ‘n dogtertjie gehad het.
“My swangerskap met haar was baie makliker as met Eathan. Ek het net soms oggendnaarheid ervaar. Sy is ook ‘n maklike babatjie en word nie baie gereeld wakker nie.”



