AfriForum steun die behoud van beelde
'N VURIGE debat het die laaste tyd in vlam gevat oor die verskuiwing en verwydering van geskiedkundige standbeelde regoor Suid-Afrika.
Foto:verskaf
‘N VURIGE debat het die laaste tyd in vlam gevat oor die verskuiwing en verwydering van geskiedkundige standbeelde regoor Suid-Afrika.
Die standbeeld van Paul Kruger in Rustenburg, is onlangs ook geskend met die woorde: “Paul moet gaan, hardloop,” en die beeld is met ‘n swartsak bedek.
Afriforum verklaar in ‘n mediaverklaring op Maandag, dat hulle ‘n veldtog geloods het teen die ondeurdagte verskuiwing en verwydering van standbeelde op openbare terreine.
“Tans is protes ten gunste van die verwydering van standbeelde ‘n maklike manier om publisiteit vir ‘n ideologiese standpunt te kry, gemoedere op te sweep en gemeenskappe in Suid-Afrika al meer te polariseer.
Niemand baat by die proses nie en die verskuiwings bied geen werklike oplossings nie,” het Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum verantwoordelik vir erfeniskwessies, gesê.
Dié stap volg in reaksie op die vlaag betogings teen verskeie standbeelde van historiese figure uit alle gemeenskappe regoor Suid-Afrika deur protesteerders met uiteenlopende ideologiese agendas.
Volgens Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum verantwoordelik vir erfeniskwessies, staan AfriForum die beskerming van Suid-Afrika se totale kultuurhistoriese erfenis voor, asook dat ‘n gebalanseerde beeld van die verlede op alle terreine voorgehou moet word.
Om dié rede vra AfriForum, en lede van die publiek wat dié organisasie se petisie steun, vir ‘n moratorium op die verskuiwing van alle standbeelde en monumente op openbare terreine. AfriForum stel voor dat ‘n nasionale erfenisberaad gehou word waar daar oor die toekoms van monumente en standbeelde besin moet word, asook oor name van onder meer dorpe, strate en skole.
“Tans word oorhaastige besluite onder politieke- en mediadruk geneem oor beelde en ander gedenkwaardighede,” het Bailey verduidelik. “Dit is nodig dat alle belanghebbendes rustig en ewewigtig moet besin hieroor, voor pogings om ontslae te raak van alle spore van die verlede wat enigeen mag ontstig, tot onomkeerbare skade aan die Suid-Afrikaanse kultuurhistoriese erfenis lei.”
“Alle gemeenskappe in die land se nalatenskap moet gerespekteer en bewaar word – nie net eenkant in beeldetuine nie, maar sigbaar as deel van die openbare landskap.
Sodoende kan standbeelde en monumente deel bly van ‘n diskoers oor ons onderskeie en gedeelde verlede in die land. Openbare figure kan beoordeel word in die konteks van hulle eie tyd, plus hulle nalatenskap. Ons moet ook onthou dat die beelde nie ons geslag se eiendom is nie – ons hou die land se erfenis bloot in bewaring vir geslagte na ons.
As ons weens eietydse ideologiese druk besluite neem en die geskiedenis verskraal tot ‘n eensydige beeld, is dit ‘n wandaad wat teen die nageslag gepleeg word,” het Bailey bygevoeg.
Mense wat die veldtog wil steun, kan die petisie op AfriForum se webwerf of Facebook-blad onderteken, of hulle name SMS na 42315. SMS’e kos R1,50.



