Koeëls en kleie vlieg by SAJWV Mokopane skietdae
Van langafstand staalplate tot kleiduifskiet het lede hul akkuraatheid in verskeie uitdagings getoets.
MOKOPANE – Die Suid-Afrikaanse Jagters en Wildbewaringsvereniging (SAJWV) het onlangs verskeie skietdae aangebied, onder andere die gewilde ‘Erik Cortina Blackjack Challenge’ asook ‘n fisanthaelgeweerskietoefening.
Blackjack Challenge toets langafstand-akkuraatheid
Die SAJWV-lede het Jeugdag (16 Junie) gevier met die bekende wêreldkampioen, Erik Cortina se unieke formaat, die gewilde ‘Blackjack Challenge’- skietoefening.
Die feit dat die dissipline ‘n gestandaardiseerde formaat volg, maak dit dié skietoefening beide veeleisend en uniek. Die skuts skiet op staalplate oor ‘n afstand van 457m binne slegs twee minute.
Altesaam 15 skuts het aan dié skietoefening deelgeneem, Franco Kiesling was die skut van die dag met ‘n telling van 42 punte in ‘n tyd van 02:00:00. Kort op sy hakke in die tweede plek was JP Vermeulen met 21 punte in ‘n tyd van 01:42:13 en in die derde plek is Theo de Wet ook met 21 punte in ‘n tyd van 01:46:57.

Die skuts se tellings sal by die wêreldranglystellings gevoeg word.

Kleiduifskiet bring nog kompetisie en fokus
Verlede Saterdag het die skuts teruggekeer na die RC Brits skietbaan waar daar ‘n fisanthaelgeweerskietoefening geskiet is.
Dié skietoefening kan slegs as ‘n enkelskoot per klei afgehandel word met een kleiwerp wat 15 kleie per skut reguit vorentoe gooi.

Altesaam 14 skuts het aan dié skietoefening deelgeneem.
Gawie de Wet skiet ‘n volgetal 15 kleie raak wat hom in die eerste plek plaas, terwyl Marcus Ludeke ‘n tweede plek verower met 14 kleie raak en Franco Kiesling ‘n derde plek met 13 kleie raak.
“Dankie aan al die lede wat die koue trotseer het om haelgeweer te kom skiet, asook om die Jeugdag saam met ons te kom vier het. Ons skiet op Saterdag, 27 Junie die gewilde jagtabel, en almal is welkom om saam te kom skiet,” sê die SAJWV-voorsitter, Willem Engelbrecht.




