‘LIKE’ jou só BAIE
So dikwels hoor ‘n mens van mense wat op sosiale netwerke ‘ontmoet’ en wie se verhoudings lelik skeef loop. Debbie en Wilhelm Smuts vertel egter ‘n ander storie...
POLOKWANE – So dikwels hoor ‘n mens van mense wat op sosiale netwerke ‘ontmoet’ en wie se verhoudings lelik skeef loop.
Debbie en Wilhelm Smuts vertel egter ‘n ander storie – een van liefde en geluk. Debbie (née van Rensburg) is reeds18 jaar gelede geskei en het twee volwasse kinders. Wilhelm is ses-en-’n-halfjaar terug geskei en het ‘n tienerseun en -dogter.
“My seun het vir my ‘n profiel op Facebook geskep. Ek het nie ‘n foto opgehad nie. Ek en Debbie was deel van die geselsblad Polokwane Gesels en iemand het daar ‘n boodskap geskryf wat gevra het van lekker dansplekke in Polokwane. Debbie het reageer deur te sê sy wil ook graag weet waar die ouer garde kan gaan dans. Ek was nuuskierig om te sien hoe lyk haar ‘ouer garde’ en het na haar profiel gaan kyk. Ek het vermoed sy het ‘n vals foto opgesit, maar haar naam het my aangetrek. Ek het toe vir haar ‘n vrienduitnodiging gestuur,” vertel Wilhelm.
Debbie lag en sê dat sy nie dadelik die uitnodiging aanvaar het nie en eers wou weet wie hy is. Hulle het begin gesels en sy sien toe dat hy in Phalaborwa bly.
“Ek vertel haar toe dat ek eintlik in Polokwane bly en ek was baie spyt oor die vals profiel. Ek het toe vir haar ‘n foto, asook my adres gestuur. Ek het haar nommer gevra en belowe ek sal dit weer uitwis, maar toe begin ons op Whatsapp gesels.”
Debbie voeg vinnig by: “Alles het net in plek geval. Iets het gesê alles is reg. Een aand sê hy vir my hy voel roekeloos en toe ek hom vra wat hy bedoel, antwoord hy my deur ’n oproep.
“Ek was in Nelspruit en het die volgende dag teruggery na Polokwane. Ek het verby sy huis gery en hom toe gebel en gevra wat sy motor se registrasienommer is. Toe hy my sê, vra ek hy moet die deur oopmaak.”
Wilhelm vertel hy sal die aand nooit vergeet toe sy kaalvoet, met ‘n denim en ‘n hemp uit haar motor klim nie. “Sy het die mat heeltemal onder my uitgetorring.”
Debbie vertel dat sy vreeslik gebid het vir die regte man. Vorige verhoudings het net nooit gewerk nie, maar met Wilhelm was dinge ‘anders’. Hy vertel ook dat hy vir vier jaar gebid het en gevra het dat struikelblokke weggeneem word.
“Ek het my gebed verander en net gevra stuur vir my iemand. Drie maande later toe stap ‘n meisie met kaalvoete en ‘n denim in my huis in. God het vir my meer gegee as ‘n maat. Hy het vir my ‘n wonderlike skoonma, wonderlike kinders en ‘n wonderlike skoonsuster en swaer gegee.”
Die twee vertel dat hulle baie gesels en nie sommer die televisie aansit nie. Hulle kuier om die eetkamertafel.
“Debbie hou nie van die trou woord nie en eendag, ‘n paar maande nadat ons ontmoet het, gee ek toe vir haar ‘n tuingrafie met die woorde: “Sal jy saam met my grou?” Die tuinvurkie wat saam met die grafie gaan het ek bo-op ‘n kas gesit en vir haar gesê sy moet haar antwoord daarop skryf. Haar antwoord was ja.”
Die graaf-tema is voortgesit tydens die verlowing toe Wilhelm gebruik gemaak het van ‘n kampgraaf. Dié was in die motor toe hulle die motor na ‘n motorwassaak geneem het. Wilhelm was benoud dat Debbie die graaf sou sien en op die ou-end het die twee, met die graaf, sommer so in die motorwas verloof geraak.
“By ons troue was daar ‘n groot silwer-geverfde graaf. Die troue was ‘n intieme geleentheid met net sowat 40 gaste. Dit is gehou by Adego’s en my seun was seremoniemeester. Ons het ontmoet toe ek kaalvoet was en ons het getrou toe ek kaalvoet was. Ek het net gevra vir baie liggies en kerse by my troue. Die plek het soos ‘n feetjieland gelyk,” vertel Debbie oor hul troue wat op Saterdag, 25 April plaasgevind het.
Wilhelm vertel dat die grawe deel is van hul huishouding en dat hulle uitsien om vir die res van hul lewe saam te grou.



