Local News

Die sterk man met die sagte hart: Polokwane groet Conrad

Bekend vir sy dissipline in die gimnasium en sy sagte hart by die huis, word Conrad Labuschagne deur sy familie en Bodylife-kollegas, onthou.

POLOKWANE – Conrad Labuschagne (57) het ‘n blywende indruk gemaak op elke mens wat oor sy pad gekom het.

Dié fiksheidsinstrukteur is op 2 September skielik oorlede en sy afsterwe laat reeds ‘n groot leemte in die lewens van sy familie, kollegas, vriende en die gemeenskap wat hom geken het.

Buitengewone energie tot die einde

Volgens sy seun, Hanno, was sy pa se buitengewone fiksheid en energie deel van wie hy was. Selfs op 34-jarige ouderdom kon Hanno hom moeilik in ‘n een-tot-een-sportsoort klop, vertel hy.

“Hy was ongelooflik dinamies en hardwerkend, en sou reeds 04:00 soggens opstaan. Op die meeste werksdae sou hy eers tussen 18:00 en 19:00 terug wees by die huis.”

Hoewel Conrad die geselskap van ander geniet het, was hy net so gemaklik in sy eie geselskap. Naweke het hy graag ure in die tuin deurgebring, ‘n plek waar sy liefde vir die natuur en sy besondere groen vingers sigbaar was.

“Ons kan nie aan ‘n geval dink waar ‘n boom of plant waarvoor hy gesorg het, doodgegaan het nie,” sê Hanno.

Dié liefde vir lewe het ook na diere gestrek. Conrad was veral lief vir sy honde, maar het selfs die kleinste diertjies met deernis behandel.

“In sy huis maak jy nie ‘n spinnekop dood nie,” vertel Hanno.

Streng van buite, maar sag van binne

Conrad, wie se sterk uiterlike ‘n sagte hart weggesteek het.

Vir mense wat Conrad hoofsaaklik as die ernstige, gespierde gimnasiuminstrukteur geken het, kon hy aanvanklik streng voorkom. Hy was netjies, georganiseerd en het sy oefening ernstig opgeneem. Maar agter dié sterk uiterlike was iemand wat volgens Hanno van nature vriendelik en saggeaard was.

“My een skoolvriend het gesê dit lyk asof my pa enige oomblik ‘n klein karretjie kon omgooi. Dan begin jy met hom gesels en besef vinnig, hy is die vriendelikheid vanself.”

Vir die Labuschagne-gesin was Conrad se geloof egter die belangrikste deel van sy lewe. Hanno sê sy pa het ’n besonder noue verhouding met die Here gehad en homself voortdurend met Bybelstudie besig gehou.

“Hy kon vir ure oor die Here se impak op sy lewe en die belangrikheid van leer uit mense se foute, praat.”

Conrad het ook geglo dat fisieke en emosionele welstand hand aan hand gaan. Volgens Hanno het hy mense aangemoedig om hul beste te gee, maar sonder om hulle ooit minderwaardig te laat voel.

Hy was nie iemand wat maklik geoordeel het nie. Inteendeel, hy het probeer om mense se harte te verstaan en die persoon agter die omstandighede raak te sien.

“Hy het die mense rondom hom geliefd, gewaardeer en gerespekteer laat voel.”

Gelukkigste in die bosveld

Conrad was op sy gelukkigste in die natuur.

Dié sagte kant van Conrad het veral in sy verhouding met sy gesin na vore gekom. Sy kinders en kleinkinders se doen en late kon hom gereeld uitbundig laat lag.

Hy was op sy gelukkigste in die bosveld, tydens ‘n wildsrit, met ‘n sonsondergang of voor ‘n groot vuur.

En dan was daar kos.

“Twee dinge waarmee my pa baie goed was, was potjiekos en braai. Ons sal dit baie mis en ons bes probeer om hom trots te maak wanneer ons kosmaak,” sê Hanno.

Gelukkig het Conrad heelwat van sy braaikennis aan sy jonger seun, Zuhan, oorgedra. Die potjiekos, sê Hanno met ‘n glimlag, gaan egter ’n bietjie langer neem om te bemeester.

Conrad het sy kinders ook geleer om self dinge uit te werk, te bou en reg te maak. Hy was besonder passievol oor Zuhan se sport en het hom dikwels van een kant van die land na die ander rondgery sodat hy sy rugby kon geniet.

Hy het sterk geglo dat harde werk beloon word, maar ook dat ’n mens moet leer om God se plan te vertrou wanneer dinge nie volgens jou eie verwagtinge verloop nie.

Respek vir sy ouers

Sy verhouding met sy eie ouers was vir hom net so belangrik.

Conrad het tot met sy dood gehelp om hulle te versorg en het volgens Hanno groot respek vir hulle gehad.

“Hy het baie by hulle geleer, maar ook bietjie van sy persoonlike ambisie opgegee om sy pa se wense te respekteer. Hy was altyd baie sagmoedig met my ouma.”

Ondanks sy berekende en georganiseerde aard, kon Conrad die kleiner dinge rondom hom raaksien.

‘n Plant in die tuin, iets in die natuur, ‘n oomblik saam met sy kinders of kleinkinders – dit was die eenvoudige dinge wat vir hom vreugde gebring het.

Die vooruitsig van ‘n besoek aan die bosveld of tyd saam met sy kinders en kleinkinders kon hom volgens Hanno “kinderlik opgewonde” maak.

En tussen al dié herinneringe is daar die klein, kenmerkende dinge wat ‘n mens ná ‘n geliefde se dood dikwels die diepste mis: sy netjiese handskrif, sy bekende “daarsy”, sy liefde vir ‘n goeie braai en die manier waarop hy mense laat voel het dat hulle meer kan wees.

“My pa was sterk, maar het ‘n baie sagte hart gehad en was nie skaam om oor emosies te praat nie.”

Dit is dalk dié kontras wat Conrad Labuschagne die beste beskryf: ‘n man met die fisieke krag om ander tot beter prestasie te dryf, maar met die sagte hart om hulle onderweg op te bou.

Conrad word oorleef deur sy drie kinders, Hanno, Lize-Mari en Zuhan, en drie kleinkinders, Lika, Cilliers en Amelia.

Sy roudiens is op 12 September gehou.

Conrad se Bodylife-familie deel gedagtes

Vriend en kollega, Heinrich Wolhuter (Wollies) deel gedagtes aan Conrad, namens Bodylife, waar hy werksaam was:

“Conrad was vir meer as 24 jaar deel van die Bodylife-familie. Vir baie mense was hy ‘n bestuurder, ’n persoonlike afrigter en ‘n kollega, maar vir dié van ons wat hom goed geken het, was hy soveel meer.”

Wollies het die voorreg gehad om vir ongeveer 20 jaar saam met Conrad te werk. In daardie tyd het hulle nie net kollegas geword nie, maar ook vriende, ‘n mentor en vertroueling.

Conrad het ‘n koppie koffie net so lekker geniet soos ‘n dag in die bosveld.

“Hy was iemand met wie jy kon praat, raad kon vra, en altyd geweet het daar sal ondersteuning wees. Ek gaan veral ons koffie-afsprake mis, daardie tye wanneer ons oor alles én niks kon gesels nie. Ek gaan sy raad, sy ondersteuning en sommer net sy teenwoordigheid mis.”

Dan kan daar natuurlik nie van Conrad gepraat word sonder om Tannie Antjie Retief te noem nie, vertel hy.

“Ná 24 jaar saam was hulle verhouding amper soos dié van ‘n ou getroude paartjie.

“Hulle het mekaar geken, soms lekker met mekaar gestry, maar uiteindelik was daar ‘n diep omgee en respek. Dit was iets besonders om te sien.”

Conrad se afsterwe laat ‘n groot leemte by Bodylife en veral in die lewens van die mense wat die voorreg gehad het om hom te ken.

“Ons sal jou onthou vir jou harde werk, jou kennis, jou humorsin, jou ondersteuning, maar bo alles, die mens wat jy was.

“Dankie vir 24 jaar van diens aan Bodylife. Dankie vir jou vriendskap, jou leiding en al die herinneringe. Dankie vir al die koffies, al die gesprekke, die raad, die lag en die ondersteuning.

“Rus sag, Conrad. Jy sal gemis word, maar nooit vergeet word nie.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Maretha Swanepoel

My name is Maretha Swanepoel and I have worked at the Polokwane Review since 2012. The decision to become a journalist came at 04:00 one Friday morning while watching news of bombings in Afghanistan and I realised I wanted to be there. Some years later, I decided to rather stay in South Africa and join the industry due to my love for writing and curiosity. Even though I can write all beats, I love human interest and community news with some schools added to the mix. Telling someone’s story and using my camera to make memories is a privilege. My interests include animals (especially dogs) and mental health. I like to spend my time with my dogs and a good book. My family is important and takes second place in my heart. God is always first.

Related Articles

Back to top button