Tommie-hoofseun skenk munte vir loting voor wedstryde
In plaas van kop of stert, sal spanne voortaan by HTS Tom Naudé tussen die skoolwapen en die Tiergelukbringer moet kies wanneer daar voor 'n wedstryd geloot word.
POLOKWANE – In die antieke Griekeland en Romeinse Ryk is ‘n skulp gebruik om te bepaal watter span waar kan punte aanteken tydens ‘n sportwedstryd.
Die Grieke het die een kant van die skulp met teer besmeer, en die ander kant wit gelos.
Die Romeine het besluit om ‘n muntstuk te gebruik, en aangesien die keiser se kop op die een kant van die munt was, het die uitdrukking ‘kop of stert’ ontstaan.
Sou die munt met die keiser se gesig na bo land, kry die span wat kop gekies het, die keuse.
Loting bly ‘n belangrike deel van elke wedstryd
By HTS Tom Naudé is dié gebruik, wat loting genoem word, ‘n belangrike deel van elke wedstryd.
Om sy liefde vir die skool en sport, veral krieket, te illustreer het vanjaar se hoofseun, Tiaan Haasbroek, wat ook ‘n SA-hekkiesatleet is, besluit om ‘n besonderse stukkie van sy sportnalatenskap by Tom Naudé agter te laat.
Skoolwapen of Tiergelukbringer vervang kop of stert
Tiaan het vyf spesiale munte aan die skool geskenk wat van nou af gebruik sal word om te loot voor ‘n wedstryd.
Die keuse is nou nie meer kop of stert nie, maar die skoolwapen of die Tiergelukbringer.




