Local NewsNews

Afrikaanse ‘Cohen’ met fluweelstem

Koos van der Merwe, bekroonde liedjieskrywer en digter, kinderboekskrywer en rubriekskrywer vir 'n bekende vrouetydskrif, is nie 'n onbekende in Afrikaanse kringe nie.

POLOKWANE – Koos van der Merwe, bekroonde liedjieskrywer en digter, kinderboekskrywer en rubriekskrywer vir ‘n bekende vrouetydskrif, is nie ‘n onbekende in Afrikaanse kringe nie.

Sy aanhangers verwys na hom as die man met die donker stem wat stories diep digterlik vertel en harte met sy liedjies aanraak. Koos vertel van sy liefde vir musiek. “Sing is my lewe. As ek sing is dit vir my soos om lewendig te wees, soos om asem te haal. Ek kan my lewe daarsonder nie indink nie.” Hy vertel verder dat skryf en sing vir hom hand aan hand gaan.

“Dit sal vir my ‘n groot kompliment wees as my musiek mense aanraak soos wat dit my aanraak,” verduidelik hy. Hy het nie ‘n gunsteling lied nie, vertel hy, “omdat elke storie in eie reg iets uniek het”.

Oor sy nuutste projek, die Afrikaanse weergawe van die internastionale sanger Leonard Cohan se liedere, sê Koos dit is juis die diepte van hierdie werk wat hom aangryp.

“Musiek is iets wat gelukkig en seer maak tegelykertyd,” verduidelik hy.

Iets wat min aanhanger omtrent Koos weet, is dat hy goed versamel – byna tot die punt van obsessie, sê hy.

Onder sy versamelings tel ‘n baie spesiale stel messe.

Oor sy naam en die nimmereindigende ‘Koos van der Merwe-grappe’, lag hy net.

“Die komedie van die grappies is dat iemand soos ek met sulke ‘diep dinge’ betrokke moet wees,” glimlag hy.

Koos vertel van dié ernstiger sy.

“Spiritualiteit is iets waarmee ek nie ligtelik omgaan nie. Dis nie net iets wat mens nou en dan kan beoefen nie, maar ‘n leefwyse. Alles wat in jou lewe met jou gebeur het te make met hoe en waarin jy glo. ‘n Mens kan nie op koop loop daarmee nie.”

Sy liefde vir die skryf vir kinderboeke, vertel hy, kom van ‘n vriendin wat hom gevra het om van die stories wat hy so mooi vertel op skrif te sit.

“Ek is lief vir stories en soek altyd ‘n bietjie dieper en verder as net die gewone. Ek dink ook dit gee mense die geleentheid om weer te kan glo soos ‘n kind.”

Wanneer Koos nie aan die skryf is nie vang hy graag vis. Hy vertel dat hy saam met sy mes versameling ‘n versameling visstokke het “wat skrik vir niks”.

Koos vertel dat hy teen die afloop van sy lewe graag ‘n boek wil skryf wat soos ‘n lied klink.

“Ek skryf baie, maar kon na my mening nog nie die woorde kry wat in ‘n storie geskryf word maar soos ‘n lied lees en gehoor word nie,” vertel Koos. Sy boodskap aan musiekliefhebbers is om diep te luister, “dan gaan jy meer verstaan en hoe meer ‘n mens verstaan hoe meer gaan jy musiek waardeer”.

Koos bederf die kultuurvrate

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button