Sakelui geniet Gatsby-aand gevul met glans, swier en styl
Die Mokopane Sakekamer se glansryke dinee is verlede Vrydagaand in die Pierneefsaal van Hoërskool Piet Potgieter gehou.
MOKOPANE – DIT was ‘n aand van swier en styl met die Gatsby-era wat tot sy volle reg gekom het saam met die musikale klanke van die groep, Con Grazia.
Die Mokopane Sakekamer se glansryke dinee is verlede Vrydagaand in die Pierneefsaal van Hoërskool Piet Potgieter gehou en daar is met groot fanfare gekuier en gesmul aan ‘n heerlike driegang ete.
Dr. Theuns Eloff was die gasspreker van die aand. Sy praatjie oor hoe sake in die land staan, het nie ‘n rooskleurige positiewe prentjie geskep nie en daarom nie by almal byval gevind nie.
Die hoogtepunt van die aand, naamlik die aanwys van die top besighede, sakevrou- en manne het ook vir teleurstelling gesorg omdat daar in die meeste afdelings waarin deelgeneem kon word, net een benoeming vanuit die gemeenskap ontvang is en daardie persoon dan as die wenner aangewys is.
Piet de Bruyn, president van die sakekamer, sê die sakekamer sou graag wil hê die gemeenskap moet meer betrokke wees, maar die mense is maar traag. “Ons het vir nominasies gevra, selfs eposse aan ons lede uitgestuur.”
Hy het ook daarop gewys dat die land tans nie op ‘n positiewe plek is nie.
“Die rooiligte flikker. Dit help nie ons praat die waarheid weg nie, maar soos dr. Eloff ook gesê het ons as Afrikaners en Suid-Afrikaners sal daar deurkom.”
Die wenners is as volg:
Beste nuwe besigheid/ontwikkeling
Ismail Hardware House.
Beste klein sake-onderneming
Elbar Bande.
Beste groot sake-onderneming
Nesta Foods.
Gemeenskapsdiens
Dr. Lynelle Pulligner en Steven Vermaak van Working with Fire deel hierdie toekenning.
Verkoopsman van die jaar
Daniel Nkwana van Obaro.
Sakevrou van die jaar (groot besighede)
Elsabé Schoeman eienaar van Sunrise Superkids.
Sakevrou van die jaar (klein besighede)
Lindie Peens, eienaar van Ortloff’s kindergarden.
Sportpersoon van die jaar
Andrew Howitt wat in skerm presteer ontvang die toekenning as enigte genomineerde in die afdeling.
Presidentstoekenning
Ockert Groenewald, hoof van Mokopane Primary School vir sy pragtige verbetering van die skoolterrein.
Bestuurder van die jaar
Richard Cox van Mogalakwena Platinum Mine.
Spesiale toekenning
Dr. Ferdi Bingle, afgetrede veearts ontvang die toekenning vir sy jarelange diens aan die gemeenskap.









