Basaartafels kreun en almal smul lekker saam
WANNEER die AP Kerk sy jaarlikse boerebasaar hou word daar behoorlik uitgestal en gekoop.
MOKOPANE – WANNEER die AP Kerk sy jaarlikse boerebasaar hou word daar behoorlik uitgestal en gekoop.
Verlede Saterdag het die gemeenskap in groot getalle opgetrek om saam jolyt te hou en te proe aan al die lekkertes op die tafels wat gekreun het onder die groot verskeidenheid kosse, handwerk, boeke en koeke.
Daar was ook sosasties, burgers, wors op ‘n stokkie,en pap en kaiings. Altesaam nege beeste is geslag vir keurig gepakte vleispakke en heerlike biltong. Vars groente is sommer in kruiwaens weggery.
Besoekers wat vroegog-gend al ‘n soettand gehad het, kon smul aan ‘n groot verskeidenheid poedings en vir soeter as soet was daar bloedrooi toffie-appels, gespinde spookasem en lekkergoed soos wat toentertyd op basaartafels gepryk het.
Die kuier-atmosfeer, vriendelike gesigte agter die tafels onder die groot koeltebome op die kerkterrein en lae pryse het gesorg dat almal die basaar in die wintersonnetjie geniet het.






