KOLLIG: Aftreegeld betaal skulde
AL hoe meer mense gebruik geld wat vanaf hul aftreefondse kom, om huishoudelike skuld te betaal!

AL hoe meer mense gebruik geld wat vanaf hul aftreefondse kom, om huishoudelike skuld te betaal!
Suid-Afrikaners blyk in baie gevalle nie veel om te gee vir behoorlike aftrede-beplanning nie. Net een uit elke vier Suid-Afrikaners sal waarskynlik hul leefstyl kan handhaaf wanneer hulle aftree.
Hierdie bevindinge is in Mei deur Sanlam bekend gemaak uit loofde van hul 2015 Benchmark-peiling, wat ‘n omvatttende jaarlikse hersiening van die Suid-Afrikaanse aftreebedryf is. Meer as 1000 lede van aftreefondse, trustees en werkgewers is ondervra.
Die persentasie pensioentrekkers wat as werkendes geld uit hul aftreefondse onttrek het as hulle bedank het of afgelê is, het met 4% toegeneem van 21% in 2014 to 25% in 2015. Hiervan het 57% geld onttrek om skuld te betaal, volgens die verslag.
Hierdie situasie is onrusbarend en kan vorentoe ‘n swaar las op mense se naasbestaandes plaas (en op die staat). Geld uit ‘n mens se aftreefondse is soos om by jouself te leen en jouself nooit terug te betaal nie. Maar eintlik meer as dit: die prys wat jy vir die lening betaal gaan baie geld beloop want jy boet rente op rente in. Jy verloor dus die krag van kumulatiewe rente op jou aftreefondse plus die kapitaal wat jy daaruit geneem het.
Dit is belangrik dat mens die beginsel van bewaring van jou aftreegeld verstaan wanneer en indien jy bedank of afgelê word. Deur jou aftreegelde of soveel moontlik daarvan as “onaantasbaar” te beskerm, vir solank as moontlik, en totdat jy ‘n ander aanstelling of bron van inkomste verkry het, is van groot belang om die spaarkrag vir aftrede te behou. Hiervan is verskillende opsies, soos Bewaringspensioenfondse of Uittree Annuïteite ‘n goeie keuse.
Die peiling wys ook dat die gemiddelde pensioentrekker eers 10,5 jaar voor aftrede begin om finansiële raad in te win. 36% van pensieonfondslede het geen ander spaargeld benewens hul aftreefonds-spaargeld nie. 49% verstaan nie die belasting gevolge van aftrede nie; 39% is spyt oor die beleggingskeuses wat hulle gemaak het en 43% dink hulle het genoeg geld vir die res van hulle lewe.
Laastens dui die verslag aan dat 45% nie besef watter impak die bewaring van spaargelde het nie.
Tot volgende keer,
Groetnis
Koos de Wet
* Koos de Wet is ‘n finansiële beplanner by PSG en lid van die Fidusiêre Instituut van Suid-Afrika. Lesers kan hom kontak by 015 491 2020 / 082 881 4672



