Staatmaker groet na 26 jaar
NA meer as 26 jaar groet Hoërskool Hans Strijdom, Rina Nel, 'n gesoute personeellid wat haar kant deeglik gebring het in die skoolkantoor asook op die sportveld.
MOKOPANE – NA meer as 26 jaar groet Hoërskool Hans Strijdom ‘n gesoute personeellid wat haar kant deeglik gebring het in die skoolkantoor asook op die sportveld. Rina Nel is gebore in Mokopane en het in Oktober 1972 getrou met haar lewensmaat, Louwtjie, waarna hulle na Mookgophong verhuis het.
“Ek dink met dankbaarheid terug aan 43 geseënde huweliksjare waaruit drie kinders gebore is – almal is oud-Hansies,” sê Rina.
Louwtjie het op 1 Januarie 1980 by Hans Strijdom in die tegniese afdeling begin skoolhou en nege jaar later het sy by Hans Strijdom se administratiewe personeel aangesluit in die koshuisafdeling.
Rina is ook goud werd op die sportvelde, sy het korfbal vir die Verre-Noord span gespeel en was vir jare die Verre-Noord netbalspan se afrigter en bestuurder. Dus was sy vanselfsprekend ook Hansies se eerstenetbalspan afrigter. Rina het ook op die atletiekveld haar kant gebring waar sy gewigstoot, asook verspring afgerig het. Sy was vir 32 jaar beampte by die jaarlikse Bosveld Interhoër.
“Ek sien uit na hierdie nuwe fase in my lewe, ek en Louwtjie beplan groot vir meer doen, minder doen en sommer niks doen,” terg Rina.
“Rina, jou kollegas en vriende sal jou altyd onthou vir jou besonderse karaktereienskappe van lojaliteit, hardwerkendheid en jou besonderse humorsin. Jy sal altyd deel van die Hansie-familie wees. Mag die nuwe fase in jou lewe geseënd en gelukkig wees,” groet Hansies-kollegas en -ouers vir Rina, hulle staatmaker.




