Bosveld NewsNews

Korrupsie: Ons land is stadig besig om te sterf

ONS leef in 'n siek land en dan dink ek nie eers aan goed soos 'n R 248 m "Nkôndla" as ek my uitspraak volgens 'n giggelende JZ reg het of die eierdans rondom 'n internasionaal gesoekte misdadigerpresident vir misdade teen die mensdom wie toegelaat is om die land te verlaat

ONS leef in ‘n siek land en dan dink ek nie eers aan goed soos ‘n R 248 m “Nkôndla” as ek my uitspraak volgens ‘n giggelende JZ reg het of die eierdans rondom ‘n internasionaal gesoekte misdadigerpresident vir misdade teen die mensdom wie toegelaat is om die land te verlaat ten spyte van ‘n hofbevel daarteen, of R 838 000 vir ANC T-Hemde in Mogalakwena onder die dekmantel van sogenaamde burgermeestersuitreikaksies nie. Wat gaan in ‘n ma se kop aan as sy haar 11-jarige dogter help vasdruk sodat dié teen betaling deur talle mans verkrag kan word, soos die afgelope week wyd in die media berig is? Wie se daad is die mees afskuwelike – die ma s’n, of die mans s’n?

Verlede week bevind ek my by die SAVF se provinsiale kongres hier in Mokopane gehou en uit SAVF dokumente besef ek meteens hoe terminaal siek ons gemeenskap werklik is. Proe bietjie aan onderstaande syfers en voel dan sommer naar in die beskutting van u eie klein wêreld.

Daar is twee miljoen weeskinders in Suid Afrika. In 2010, die laaste jaar wat akkurate syfers beskikbaar was, want die regering dink blykbaar dat as hy nie sê hoeveel van ‘n ding gebeur nie, dan gebeur dit nie. Amper soos met die plaasmoorde was daar 3 500 weggooi babas. Van aborsies praat ek nie eers nie. 827 kinders is vermoor, met ‘n verdere 870 pogings tot moord op kinders. Seksuele misdrywe met kinders gepleeg, en dan is dit net daardie wat aangemeld is, was ‘n skokkende 26 278.

Daar was ‘n verdere 11 809 aangemelde aanrandings teen kinders. Wanneer mens besef dat twee uit elke drie kinders sonder die teenwoordigheid van ‘n vaderfiguur grootword, kan jy amper hierdie syfers verstaan. Daar is doodeenvoudig nie pa’s wat kinders kan help beskerm nie.

Hoe gesond is ons gesinslewe? Elke jaar word 30 000 egskeidings registreer, meeste daarvan uit die wit bevolking. In 48% van egskeidings het die huwelik minder as 10 jaar gehou. In 55% gevalle is daar kinders jonger as 18 jaar wat geraak word. Meer as 40% van huishoudings het ‘n enkelouer. Maar, hou vas jou hart, dit raak nog erger. In 2010 was daar reeds 92 365 huishoudings met ‘n kind aan die hoof daarvan.

Kyk ons na armoede, dan beskou die regering dat armoede binne ‘n gesin bestaan wanneer ses lede van dieselfde gesin gesamentlik minder as R1 150 per maand ontvang. Dan verstaan mens ook sommer hoekom meer as 15 miljoen mense toelaes as hul enigste inkomste ontvang.

Vir my is die laagste vorm van politieke boewery wanneer hierdie mense deur stemwerwers op die grond die skrik op die lyf gejaag word met die dreigement dat indien hulle nie vir die regerende party stem nie, hul toelaes weggeneem sal word. Dis natuurlik die grootste pot snert, maar as jy afhanklik is van ‘n hand wat uitdeel, dan glo jy alles wat daardie hand vertel.

In 2012 het 74% van skoliere in openbare skole in SA baat gevind by voedingskemas. Die kontrole daaroor in Limpopo is egter so swak dat kinders in hospitale beland weens voedselvergiftiging. Volgens verskeie berigte in die nuusmedia word honderde kinders siek van die kos – verlede week weer 45 iewers by ‘n skool. Die OG se verslag vir 2012/13 sê dat van die kos nie geskik is vir eet nie. Limpopo se onderwysdepartement sê self 1 593 715 kinders kry daagliks kos by skole. Vir meeste van hulle is dit die enigste kos wat hulle kry. Dan slaan mens jou hande in afgryse saam wanneer ‘n dagblad berig dat verskeie skoolhoofde klagtes van poging tot moord by die SAPS aanhangig gemaak het weens beweerde glasskerwe in die kos. Die amptelike ondersoek na die gemors met die gemors kos is nou reeds maande aan die gang, sonder ‘n kwêk of kwaak daaroor vanaf die verantwoordelike instansie.

Intussen is die tenderkas vir Limpopo se skoolvoedingskema letterlik opgeblaas. As R807 miljoen vir tenderpreneurs beskikbaar is, kan kinders seker maar vergiftig word en in hospitale beland. Ek meen, hulle is mos maar net kinders en wie gee nou vir hulle om as die realiteit is soos ek dit voorafgaande geskilder het? Het ek iewers gelees dat die DA die konsep van gesonde gesinne die basis van hul verkiesingsveldtog gaan maak? Begin sommer in Limpopo en doen dit gou!

Uit die bloute het ‘n kopie van die KPMG verslag oor ‘n forensiese oudit na beweerde ongeruimdhede by Mogalakwena Munisipaliteit, gedateer 5 Februarie 2014, sy weg na my toe gevind. Dit is interessante leesstof, heeltemal in lyn met ons siek land en ek sien uit na meer dokumente van soortgelyke aard! Laat kom gerus. Mogalakwena se nuwe burgermeester kom na bewering uit dieselfde dampkring as die oue. Ek lees dat hy reeds voorheen munisipale bestuurder by twee ander munisipaliteite in Limpopo was – en dit klink nie of sy teenwoordigheid daar juis bygedra het tot enige uitnemende bestuur van munisipale sake nie. Sy kwalifikasies word op internet aangedui as “STD, Certificate in School Library and Media S”. Dit klink darem beter as “taxidrywer” vir sy voorganger.

Ek het egter groot begrip vir die ongelukkigheid oor sy aanstelling soos deur die Mogalakwena Residents Association (MRA) in ‘n persverklaring in verlede week se Bosveld uitgespreek – weereens ‘n buitestaander. En dan help dit ook nie juis as die ANC se streeksekretaris vir Waterberg, Tolly Mashamaite, MRA afmaak as dat hulle minder as ‘n kwart van Mogalakwena se inwoners verteenwoordig nie en dan ewe sedig beweer “we as the ANC will never disobey the law”.

Ek kan nie help om te wonder of sy ANC dieselfde ANC is wat toegelaat het dat ‘n internasionaal gesoekte misdadiger teen die mensdom ewe suutjies uit SA kon glip ten spyte van ‘n hofbevel wat dit verbied het nie? Dan is dit dieselfde Tolly wat in ‘n Capricorn Voice berig van 4 Feb 2014 geïmpliseer word dat hy bietjie gepanelbeat is omdat hy geld van tenderpreneurs sou ontvang het sonder om die tenders te verskaf en dat hy ondersoek word vir “defeating the ends of justice” oor die aanranding. Nou wonder ek net. Gaan Parks Sebatjane, as nuwe burgermeester, dit ook as geregverdig beskou om R838 000 van belastingbetalers se geld aan 12 000 ANC T-hemde te spandeer onder die dekmantel van burgermeestersuitreikaksies soos sy voorganger se kantoor gedoen het, terwyl dit op bl. 79 van die KPMG verslag gestel word “… some of the outreaches were disguises for ANC rallies.” Die verslag se bevinding is dan ook: “The expenditure incurred by the municipality during these outreaches ….. be considered as fruitless and wasteful.” Ek sal nie juis geld daarop verwed dat enigiemand aanspreeklik gehou gaan word nie, al is die verslag reeds verlede jaar in Augustus via die Limpopo United Business Forum per hand by die premier se kantoor afgelewer, met ontvangsbewys en al. Kom ons werk bietjie uit volgens die regering se eie armoede maatstaf vroëer genoem – R838 000 gedeel deur R1 150, vermenigvuldig met ses, gee 4 372. Dit is hoeveel behoeftige mense vir ‘n maand lank buite algehele armoede gehou sou kon word as kos eerder as partypolitieke T-hemde met belastingbetalersgeld gekoop was. Ek wonder of die DA hiervan weet, of is van hul raadslede so behep met selfbemarking dat die groter saak vir van hulle bysaak geword het?

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button