Bosveld NewsNews

Waterpyp oor selfde kam as sigarette geskeer

WATERPYPROKERS kry nie meer beter risikograderings by versekeraars nie, aangesien die bedryf nou die gesondheidsrisiko's wil beklemtoon wat met die rook van die uiters toksiese waterpyp, of "hubbly bubbly", geassosieer word.

MOKOPANE – WATERPYPROKERS kry nie meer beter risikograderings by versekeraars nie, aangesien die bedryf nou die gesondheidsrisiko’s wil beklemtoon wat met die rook van die uiters toksiese waterpyp, of “hubbly bubbly”, geassosieer word. Sommige waterpyprokers sal miskien verras wees dat hulle nie meer onskuldig kan pleit wanneer hulle die vraag oor hul rookgewoontes moet beantwoord nie. Hoewel die onderskrywingsvraag oor rook in die verlede net gevra het of die persoon ‘n roker is of nie, vra dit nou spesifiek of die persoon sigarette, e-sigarette, pruimtabak of waterpyp rook. So ‘n persoon, wat nee sou geantwoord het omdat die rook van ‘n waterpyp nie as tradisionele rook beskou is nie, sal nou nie meer dieselfde hoë premies as dié van sigaretrokers kan vryspring nie.

Dr. Pieter Coetzer, hoof mediese adviseur by Sanlam, sê hoewel sommige waterpyprokers hulself as nie-rokers sal beskryf en sal aandui dat hulle dit net by spesiale geleenthede en saam met vriende en familie “geniet”, word hierdie tabakproduk uit ‘n risiko-oogpunt net soos sigarette hanteer. Dr. Coetzer sê die Suid-Afrikaanse lewensversekeringsbedryf het nog altyd dieselfde onderskrywingsmaatstaf gebruik om waterpyp- en sigaretrokers te beoordeel. Die bedryf het egter die vraag in verband met rook aangepas omdat navorsing getoon het dat tabak wat in waterpype gebruik word, in werklikheid ‘n groter gesondheidsrisiko inhou. Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) bevat die rook uit ‘n waterpyp verskeie gifstowwe wat daarvoor bekend is dat dit longkanker, hartsiektes en ander siektes veroorsaak. Dit bevat die verslawende nikotien wat in sigarette voorkom, en die koolstof wat in die pype verbrand word, gee dikwels gifstowwe af wat nie in sigarette voorkom nie – soos die hoë vlakke van koolstofmonoksied. Die mees ontstellende feit is dat die rook wat ‘n tipiese waterpyprooksessie oplewer, omtrent 36 keer meer teer kan bevat as die rook van een sigaret. Hoewel nikotien die verslawende bestanddeel in alle tabakprodukte is, is teer die bestanddeel wat eintlik long- en keelkanker veroorsaak. Ten spyte van navorsing wat wys op die risiko’s wat met sogenaamde alternatiewe rookopsies geassosieer word, is mense nogsteeds geneig om te dink dat toestelle soos die waterpyp minder skadelik is.

Volgens die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa) raak waterpype al hoe meer gewild onder jongmense, omdat dit as ‘n prettige manier beskou word om saam met vriende te verkeer. Navorsing deur ‘n groep mediese studente van die Universiteit van Kaapstad in samewerking met KANSA het getoon 66% van die 228 studente wat aan die opname deelgeneem het, rook waterpyp, en die meeste het al op hoërskool begin. Hul rooksessies duur oor die algemeen 30 tot 60 minute en alhoewel 91% aangedui het hulle weet vaagweg dat dit skadelik is, het 84% gesê hulle sal dit aanbeveel. Kansa sê die kommerwekkendste neiging is dat sommige ouers selfs die waterpype vir hul kinders koop met die hoop dat dit hulle sal afskrik van sigarette! Dr. Coetzer sê die waterpyp is dikwels ‘n aansporing om te begin rook. “Dit kan nie maklik saamgedra word nie – die waarskuwing aan ouers is dat hulle miskien hul kinders net aan die waterpyp wil blootstel, maar dat dit hier is waar hulle aan nikotien verslaaf raak. En dan sal hulle waarskynlik na sigarette oorslaan omdat dit saamgedra kan word.”

Hy sê dis die sosiale- en kultuurstatus van die waterpyp wat ouers gemaklik laat voel dat hul kinders dit rook, maar dat hulle dit ongelukkig ook uit onkunde toelaat. Van hierdie wanopvattings is gekoppel aan die feit dat waterpyprook deur water beweeg – mense glo dat dit daarom minder skadelik as sigaretrook is. Die soet geur en aangename reuk maak dit makliker om die rook in te asem en skep ook die indruk dat die rook skoner is as dié van sigarette.

“Nog ‘n groot probleem is dat ons nie beheer het oor wat mense in die waterpyp sit nie, omdat dit nie gereguleer word nie. Dit is soos om ‘n oop drankie in ‘n kroeg te kry waar jy uitgelewer is aan die persoon wat dit vir jou gegee het,” sê dr. Coetzer.

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button