Bosveld NewsNews

Potties: ‘n Gesig met diep karakterlyne

REDAKTEUR SE INK: MOKOPANE bied baie wanneer 'n mens vanaf die stad hierheen verhuis.

MOKOPANE bied baie wanneer ‘n mens vanaf die stad hierheen verhuis.

Daar is die ruwwe bosveld met al die wildreservate in die buitehoeke, die majestieuse berge wat die dorp en sy inwoners toevou, heerlike boere-basaars met koekisters, pannekoek en die tannies se ingelegde konfyte.

Daar is genoeg kerke in die strate hier in die middedorp, al word die banke nie meer so vol gesit soos in die goeie oudae nie en ‘n mens moet nie die verskillende skole vergeet nie

AfriForum sê ons water is drinkbaar en ‘n pluimpie vir die dorp is die verkeersmanne en reaksie-offisiere wat elke dag aan diens is in die strate en by ongelukstonele hul ding doen.

Selfs vandeesmaand op Jeugdag staan die verkeersmanne voor ons kantoor om die padwaardigheid van die trokke en busse wat die dorp binnekom van nader te beloer.

Wanneer beurtkrag inskop laat spaander al wat leef en beef huis toe hopenlik om te bond met hulle gesinne en veral om saans om kerslig te kuier of ‘n vleisie saam te braai want die televisie werk nie.

Die bejaardes trek noustrop, maar danksy die Pogietersrus Dienssentrum kan hul elke dag daar ‘n bord gekookte kos vir sowat R10 eet en die Kierieklapper Kunstefees wat begin Augustus gehou word, bied nie net vermaak met gewilde sangers en vertonings nie, maar sorg dat die sentrum se beursie weer vol kom.

Armoede is soos in die res van die land ‘n groot probleem en met die goeie harte van weldoeners en organisasies soos die Mokopane Noodforum en SAVF word baie gate regdeur die jaar toegestop.

Daar is ook die DA se Marcelle Maritz wat weekliks tussen armoede en ‘n poging om die plaaslike DBV van ondergang te red, rondskarrel met ‘n pot warm sop en verskeie liefdadigheidsprojekte, terwyl Korny Dekker saam met DA aktiviste inklim en die strate skoonmaak.

Kultuurorganisasies en vrywillig-ers vee erfenisterreine met hul besems skoon waar verwaarlosing ingetree het en ek sien die gras in die begraafplaas is uiteindelik gesny.

Nou die dag ry ‘n reuse vragmotor voor my oë die sypaadjie met robot en al stukkend met sy tamaai wiele en ek besef die groot monsters wat ons dorp se paaie so verniel raak al hoe meer, ook in woonbuurte, soos die mynbedrywighede toeneem.

Die hoop beskaam egter nie dat die nuutverkose burgemeester en sy raadslede kalmte in die Mogalakwena munisipaliteit sal bring en dienslewering weer prioriteit gaan wees nie.

Anderdag wil twee lesers egter van my en joernalis, Jolandi Fourie, weet waaraan skiet potties se mense dan te kort, ook gesien in die lig “dat julle albei immigrante van buite is wat nou hier bly”.

Soos een man borrel dit by ons uit: “Die gebrek en belangrikheid van behoorlike sinvolle kommunikasie en Mokopane se mense is bang vir verandering en vernuwing.”

Dit laat my aan my pa dink wat altyd gesê het dat die horison daar buite wyd is, ‘n mens moet nie deur ‘n nou tonnel kyk nie.

Hier is ek baie keer in situasies waar sy wyse woorde op die punt van my tong sit.

Dit was ook juis tydens ‘n motiveringspraatjie wat by die Mokopane Hospitaal gehou is deur Tsibolane Mbuyiselo, hoof uitvoerendebeampte van die hospitaal, wat Jolandi bygebly het.

Hy het onder meer gesê: “You can study to become a doctor or lawyer, but if you don’t have interpersonal skills and don’t know how to acknowledge people, your qualifications doesn’t mean anything.”

In ons daaglikse handel en wandel hoor ons hoe diegene wat van elders hierheen getrek het na jare steeds sukkel om aan te pas.

Soos een van die sogenaamde immigrante dit anderdag tong in die kies by ‘n sosiale geleentheid stel: “Baie van Potties se mense is al oor geslagte heen hier en hul kringe en denke is meestal net so geslote soos die berge wat die dorp toevou.” Dit is debateerbaar laat ‘n oud-inwoner hier van die kant af hoor.

“Potties se mense straal hartlike boerevriendelikheid uit. Hulle staan bankvas bymekaar want lojaliteit is groot tussen hulle, al beteken dit dat sekere dinge nek omgedraai word of onder die mat beland.”

Stuur jou kind na die kleiner buurskool duskant Mokopane en jy sal langs die sportvelde hoor hoe word daar openlik van die dorp se “verraaiers” gepraat soos verlede week toe die twee skole kragte op die sportveld gemeet het.

Hoe dit ookal sy, die mens bly ‘n interessante spesie en ek en my kollega sien in ons werk die groot verskil in die mense se uitkyk op die lewe hier teenoor dié van stedelinge.

Daar in Sodom en Gomora is die tempo vining – die polsslag kloppend om voor te bly met die nuutste verwikkelinge.

Hier word verandering grootoog besweer en indien dit nie anders kan nie, met babatreetjies aangepak.

Potties se gesig het inderdaad vele plooie.

Daar is lewenslyne wat karakter gee, party dieper as ander. Ry ‘n mens dorp uit op een van die vele roetes besef jy weer hoe pragtig die bosveld steeds is so op ‘n grou wintersoggend.

Die lug is nog skoon en blou hier tussen berg, rivier en klip… al is dit stowwerig onder die mat.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button