Inwoners bederf met lekker stomende koppie vol sop
DAAR is niks lekkerder as 'n warm koppie sop op 'n koue wintersdag nie en die inwoners van Soetdoring woonstelle stem hartlik saam.
MOKOPANE – DAAR is niks lekkerder as ‘n warm koppie sop op ‘n koue wintersdag nie en die inwoners van Soetdoring woonstelle stem hartlik saam.
Marcelle Maritz, DA wyksraadslid van wyk 32, het Maandagmiddag die inwoners bederf met heerlike stomende groentesop wat deur die Koffieboon voorberei is.
Maritz noem aan Bosveld, “hierdie skenking is moontlik gemaak deur die finansiële bydra van ‘n barmhartige inwoner van Mokopane. Dit is waarlik vir my ‘n voorreg en ‘n riem onder die hart wanneer mense jou vertrou om goed te doen vir ander. Ek bedank hierdie inwoner vir sy dankbare donasie en die Koffieboon vir die heerlike sop.”
Die inwoners het hul dankbaarheid teenoor Maritz menige kere uitgespreek: “ons is waarlik dankbaar vir hierdie heerlike bederf op hierdie wintersdag en ons bedank al die rolspelers wat dit moontlik gemaak het.”





