Kierieklapperfees skud sy vere reg vir 6 tot 10 Augustus
Van die grootste Afrikaanse kunstenaars kom hulle staal op die buiteverhoog wys, terwyl die feesterrein vibreer met feesklanke én 'n mengelmoes van reuke van tipiese feeskos.

MOKOPANE – OM oud te word is ‘n voorreg, maar in dié fase raak jou vel dun, vol blou kolle en plooie. Gesondheidsredes maak jou afhanklik van ‘n bed, rolstoel of loopapparaat en dan besef ‘n mens ook jou huishouding kan nie op R1 410 per maand oorleef nie.
Dis om hierdie redes dat die Potgietersrus Dienssentrum vir Bejaardes 28 jaar gelede op die been gebring is. Die Dienssentrum het die afgelope jaar dienste gelewer aan 618 lede waartydens meer as 21 000 etes by die sentrum voorsien is, terwyl 18 388 etes tuis by bejaardes afgelewer is.
‘n Kliniek onder leiding van sr. Martie Coetzee word drie dae per week bedryf waar lede onder meer hul kroniese medikasie ontvang. Huis- en tuinhulp is ook beskikbaar en lede kan by die sentrum gebruik maak van ‘n haarsalon, skoonheidsalon en biblioteek. Daarby kan hulle ook deelneem aan trimgim en volksang. Bejaardes word ook na winkels, dokters en hospitale vervoer wanneer nodig.
Vrydae is gewoonlik kuiertyd en lede word dan bederf met ‘n verskeidenheid van aktiwiteite en uitstappies. Die Dienssentrum se algehele fokus is om bejaardes by te staan en te ondersteun om vir so lank as moonlik ‘n kwalitatiewe en sosiaal-geïntegreerde lewe te lei.
Om hierdie dienste te lewer kos egter baie geld en hoewel die lede ‘n jaarlikse ledefooi en ‘n klein bedraggie vir dienste betaal is dit nodig vir die mense aan die stuur om voortdurende fondsinsamelingsveldtogte aan te bied. Een van hierdie veldtogte is die Kierieklapper Kunstefees wat vanjaar vir die 15de keer aangebied word van 6 en 10 Augustus.
Alle inkomste wat met die aanbieding van hierdie fees gegenereer word, word teruggeploeg om die Dienssentrum se wiele dwarsdeur die jaar aan die rol te hou. Dit is nie net Potties se gemeenskap wat die lekkertes wat hierdie fees bied met oorgawe ondersteun nie, maar ook die omliggende dorpe soos Mookgophong, Polokwane, Tzaneen, Bela-Bela, Modimolle en Lephalale. Feesgangers van sover as Pretoria en Johannesburg maak ‘n heerlike bosveldkuiernaweek wanneer hulle hier saamtrek.
Van die grootste Afrikaanse kunstenaars kom hulle staal op die buiteverhoog wys, terwyl die feesterrein vibreer met feesklanke én ‘n mengelmoes van reuke van tipiese feeskos. Kleurvolle stalletjies kreun met items wat te koop aangebied word, nommerpas vir oud en jonk terwyl die kinderareas gons soos die kleinspan hulself geniet.
Vanjaar se groot name op die Kierieklapper produksiespyskaart is Snotkop, Bobby van Jaarsveld, Riana Nel, Dillon Lerm en Dewald Wasserfall. Vir die sportgeesdriftiges is daar gholf en KIA Mokopane borg hierdie jaar die pretdraf/stap. Bok van Blerk, Frank Opperman en Derrich Gardner is die groot name agter die drie produksies wat aangebied word. Hierdie produksie se kaartjies is nou reeds beskikbaar by die Dienssentrum op die hoek van Dudu Madisha- en Geyserstrate.
Vir meer inligting, skakel gerus die Dienssentrum by (015) 491 3129 of klik op www.kierieklapperkunstefees.co.za. en maak ook seker jy koop die Bosveld Review vir al die Kierieklapper nuus!




